Reünie
Dis 6uur Saterdagoggend – ek sit in my kantoor. Ek moet werk aan more-oggend se erediens. Gisteraand se Reünie maal in my kop. Ek het lanklaas so lekker gelag en ek het mense sien lag wat lanklaas gelag het. Dit was bevrydend. Ons het gelag vir die lewe, vir onsself, vir die ander mense. Lag doen ’n mens goed. Maar ek het ’n paar keer amper ook gehuil. Die reünie wat Dana Snyman beskryf en Frank Opperman so meesterlik opgevoer het, vertel vir ons iets van ons eie wêreld – ’n baie stukkende wêreld. Die prentjie van die verskillende mense by die reünie is ’n prentjie van ons eie wêreld – selfs van ons eie dorp. Dit ruk ons weg van die religieuse kerkwêreld waarin so maklik ’n kokon-betaan voer na ’n wêreld waar almal nie so “ok” is nie. Boesman se storie het my in die hart gegryp. Ek dra maandeliks by vir ’n fonds vir oud weermaglede, soos hy, wat nie kan “cope” nie. Sy taal en swetswoorde het my nie afgesit nie – dis hoe daardie manne praat. Die oorlog het hulle geleer om so te praat....