Reünie
Dis 6uur Saterdagoggend – ek sit in my kantoor. Ek moet werk aan more-oggend se erediens. Gisteraand se Reünie maal in my kop. Ek het lanklaas so lekker gelag en ek het mense sien lag wat lanklaas gelag het. Dit was bevrydend. Ons het gelag vir die lewe, vir onsself, vir die ander mense. Lag doen ’n mens goed. Maar ek het ’n paar keer amper ook gehuil. Die reünie wat Dana Snyman beskryf en Frank Opperman so meesterlik opgevoer het, vertel vir ons iets van ons eie wêreld – ’n baie stukkende wêreld. Die prentjie van die verskillende mense by die reünie is ’n prentjie van ons eie wêreld – selfs van ons eie dorp. Dit ruk ons weg van die religieuse kerkwêreld waarin so maklik ’n kokon-betaan voer na ’n wêreld waar almal nie so “ok” is nie.
Boesman se storie
het my in die hart gegryp. Ek dra maandeliks by vir ’n fonds vir oud
weermaglede, soos hy, wat nie kan “cope” nie. Sy taal en swetswoorde het my nie
afgesit nie – dis hoe daardie manne praat. Die oorlog het hulle geleer om so te
praat. Die oorlog het hulle geleer om te drink. Ek was nie daar waar die bomme
val en jy jou buddies verloor nie, maar hy was. En dit het sy lewe verander. Dit
het hom stukkend gemaak. Ek het ’n pad geloop met Richard, ook ’n verminkste soldaat,
wat net soos Boesman, ’n prys betaal het.
Ek was ook geroer
deur die ou wat vertel het dat hy in die skool ‘n “moffie” en ‘n “trassie”
genoem is. Ons het almal daardie woorde gebruik – dit was redelik algemeen in
ons skool. Ek het op daardie stadium nie besef hoe seer dit kan maak nie - vergewe
my, Here. Sy sterk taal teenoor PJ en die skool het my iets laat besef van die
seer wat mense in hulle ronddra. Dit beteken nie dat ek dit goedkeur nie; ek
het net nie die reg om seer te maak nie.
Wat my die meeste
in die hart gegryp het, was die meisie wat swanger geraak het. Dis jammer dat
die opvoering op hierdie punt ontwrig was, want dit was die diepste oomblik van
die aand. ’n Meisie wat aan die einde van matriek swanger raak. Ons gemeente
het ook maandeliks bygedra vir die huis vir ongehude moeders – dit was goed
bedoel. Gewoonlik het die mans aangegaan met hulle lewe; die meisie het die
prys betaal, sy is in die tehuis opgeneem. Sy het die “shots” gevat by die
skool, in die dorp, maar ook in die kerk. Ek onthou self ook enkele gevalle
soos hare. Die kerklike tug was bedoel om reg te help, maar dikwels is dit baie
hard en liefdeloos gebruik, amper soos ’n openbare teregstelling. Ek huil
vandag daaroor. Vergewe ons, Here.
Ek kon myself mèèr
vereenselwig met die stukkende mense in die storie, miskien omdat ek vandag
baie met stukkende mense werk. Ons het ook die PJ’s en die Patryse tussen ons,
die oënskynlike “good guys”. Jesus se sterkste reaksie was nie teen die “bad
guys” nie, maar teen die “good guys”, die ouens wat dink dat hulle bietjie beter
as die ander is. Ek kon eintlik nie anders as om jammer te voel vir hulle ook
nie. Hulle is op ’n ander manier ook stukkend – hulle steek dit net beter weg.
Ek sal altyd
hierdie opvoering van Frank Opperman onthou. ‘n Gemeente en ’n dorp het ook al
hierdie karakters. Dit het baie diep met my gepraat. Dis hoe die wêreld buite
die mure van die kerk lyk. Dis die wêreld waarvoor die kerk geroep word. Dis
baie keer ook hoe die kerk self lyk, want hierdie mense met hulle seer sit
Sondae voor ons, en kom ons wees eerlik, hulle staan Sondae voor die gemeente.
Mense met stories.
Dis die wêreld
waarnatoe Jesus gekom het – dis die wêreld wat Hy so lief het (Joh 3:16). Hy het
gesterf vir hierdie wêreld: vir Boesman, PJ, Vivian, die dominee wat polisse
verkoop, vir my...en vir jou. Dit was goed om weer te sien en te hoor hoe lyk
die wêreld waarheen Jesus gekom het.
Mag ons ’n
verskil maak in hierdie wêreld...
Coenie
Hoe eerlik verwoord Coenie nie die meeste van ons se gedagtes en gevoelens nie. Baie dankie
ReplyDelete