Brief aan Covid
My juffrou het my geleer om 'n briefie te begin met geagte, beste of liewe. Vergewe my maar ek sien nie kans om te sê "geagte covid" of "beste Covid" of "liewe Covid" nie. Daarom begin ek sommer net met "Covid". Ek weet nie waar jy vandaan kom of waar jou wortels lê nie; ook nie wie jou gemaak het nie. Ek weet wel dat jy soos alle ander diewe gekom het om te steel en te vernietig. Jy wag ons in in die supermark, in die kerk, by die werk, in die klaskamer en enige plek. Jy vervreem mense van mekaar en beroof ons van menswees en medemenslikheid. Jy is genadeloos met kinders en bejaardes en gesinne; jy spaar niemand nie. Jy dring ons lewens binne en wurg elke stukkie suurstof uit eens gesonde longe. Jy vernietig niere en lewer en hart en longe. Jy beroof mense van die kosbaarste besitting en gawe, naamlik lewe. En elke keer kom jy terug in 'n nuwe jassie maar jy bly genadeloos dieselfde. Jy is 'n wrede monster wat in elkeen van ons se...