Vorentoe
Na aanleiding van die erediens wat ek gehou het op 22 Aug 2021...
Here, dis my derde dag van vorentoe leef. Ek het geweet dit gaan nie maklik wees nie, en dit is ook nie. Dis moeilik om los te maak en te laat gaan. Losmaak is altyd moeilik. U ken my, U het my gemaak - U weet hoeveel tyd ek spandeer het om te verstaan en te verklaar. Dis vir my moeilik om dit te laat gaan. Maar dis vir my nog moeiliker om mense te laat gaan. Ek word baie lief vir mense en sukkel om los te maak, selfs wanneer hulle my seergemaak het. Ek moet erken dat dit 'n moeilike pad is maar dat ek met U krag reeds drie dagreise ver in die woestyn in gevorder het. Daar lê baie dagreise voor. Ek sal elke dag die manna vir daardie dag optel en dankbaar eet. Hoe sê die lied: "There's a promise behind the desert..." Anderkant die woestyn wag die beloofde land. Genadiglik in 'n mens nie alleen op hierdie pad nie: jy loop saam met familie en vriende wat ook oppad is - elkeen met sy eie losmaak. En in die woestyn ontmoet jy nuwe vriende wat saam met jou oppad is - elkeen met hulle eie losmaakstorie. Waarheen? Ek weet nie presies nie, maar ek weet ek moet vorentoe gaan, een dagreis op 'n slag. En elke tree is een tree nader aan die onbekende bestemming. Here, wees by my met vandag se dagreis; en wees by elkeen wat, net soos ek, oppad is. Ons maak staat op vandag se manna en water uit die Rots...
Dawid het losgemaak (2 Sam 12), en so ook Josef (Gen 37-50) en Paulus (Fil 3). Ek kan ook..
Comments
Post a Comment