God se hande

God se hande

‭‭PSALMS‬ ‭89:14‬ "U het 'n magtige arm, sterk is u hand, kragtig u regterhand".

Hande fassineer my. Ek kyk graag na mense se hande. Elke mens se hande lyk en voel anders. Soms vertel mense se hande iets van hulle lewensstorie. Mans wat met hulle hande werk, het dikwels groot, growwe hande. Musikante het dikwels fyner, sagter hande. 

Ek sal nooit oom Jantjie se hande vergeet nie. Hy was diep in die tagtigs. Wanneer ek hom met die hand groet, het my hande weggeraak in sy reuse hande. Maar dit was die sagste hande wat ek ooit by 'n man gesien het. Liefdevolle hande.

Oom Kinnie se hande was groot en sterk. Hy het vroeër in die myn gewerk en daarna met yster gewerk. Dit was sterk maar liefdevolle hande - hande wat jou laat veilig voel het.

My ma se hande was krom en effens verwronge. Jare se artritis het haar klein sagte hande verander in ongemaklike, seer hande. Dit was hande wat hard gewerk het en alles vir haar kinders gedoen het.

Die Bybel praat dikwels van God se hande. Met Sy eie hand het Hy geskep (Jes 40:12). Met 'n sterk hand het Hy die volk uitgelei. Ons leef uit Sy hand (Ps 145:16). Sy hand lei ons (Ps 139:10). Sy hand ondersteun ons (Ps. 63:9).

As klein seuntjie het ek altyd in my gedagtes gesien hoe God die berge met Sy hande gevorm het, net soos 'n klein seuntjie hopies grond vat en klein bergies maak. Dit lyk vir my of Jesaja ook so gedink het oor God en die skepping (Jes 40:12).

Natuurlik is dit alles net beelde en metafore, want God is Gees. Dis vir my die mooi van die Bybel - dat God Homself bekendmaak en openbaar in menslike beelde en taal, ja selfs in menslike liggaamstaal: hande, voete, oë, ore, hart. Daarom kan ons maar liggaamlik aan God dink, alhoewel God Gees is.

Die belangrike van dit alles is om vandag te onthou dat dieselfde hande wat die heelal gevorm het, jou vandag sal vashou. Dis groot, sagte hande soos oom Jantjie se hande. Dis sterk hande, soos oom Kinnie se hande - jy kan veilig voel. Dis hande wat hard gewerk het, soos my ma se hande. Hy sorg vir eeue al vir Sy skepping. Dis God se hande, God self, wat jou vashou en vandag vir jou sorg. 

Mooi dag!

Coenie


https://youtu.be/CsvJurL6FUY?feature=shared

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...