Flippen pannekoek...

Flippen pannekoek...

Ek hou nie van pannekoek nie. Daar was 'n tyd wat pannekoek vir my lekkerder was as nou, maar ek het nooit regtig gedink dat pannekoek kos is nie - eerder net ietsie lekkers. Ek onthou hoe ons as jongmense by die BKJA (Belydende Kerk Jeug Aksie) pannekoek gebak het. Op daardie stadium was dit groot pret. Ons het soms regdeur die nag pannekoek gebak; min besef hoe gevaarlik pannekoek kan wees... Ons het baie pret gehad met die pannekoeke - gekyk hoeveel keer ons dit kan laat tol in die lug voordat ons dit weer vang in die pan. Groot pret! Een van die tannies in ons gemeente bak die lekkerste pannekoek: dis bros aan die buitekant maar vol gesmelte kaneelsuiker binne. Ons aksie vir senior burgers bak ook jaarliks pannekoek. Dis altyd 'n groot gebeurtenis op ons gemeentekalender. Maar ek hou nie van pannekoek nie. Die laaste jaar of twee wil ek dit eintlik nie eers sien nie. Pannekoek het my seergemaak; 'n blywende merk op my lewe en my bediening gemaak...my beroof van 'n stuk lewe wat ek nie kan terugkry nie. En dit alles het begin by 'n pannekoek. Ek het 'n moeilike dag gehad en nie gaan pannekoek bak saam met die pannekoek-span nie. Dit was nie net 'n moeilike dag nie; dit was 'n baie moeilike tyd in my lewe. Soos in elke ander situasie is daar natuurlik meer as een kant aan die saak. Maar as ek die tyd kon terugdraai, sou ek daardie dag gaan pannekoek bak het. Ek sou nie voorberei het vir die volgende dag se troue in Krugersdorp of die Sondag se oggenddiens of die aanddiens nie: ek sou pannekoek gaan bak het. Want na amper twee jaar is die troupreek waarskynlik vergete, niemand onthou dalk meer die oggenddiens nie en die aanddiens het waarskynlik ook nie baie lewens verander nie. Maar die pannekoek het my lewe verander. Dit het 'n merk gelos op my. Dit het 'n stukkie van my glimlag weggevat...vir altyd. Ons kan nie vir altyd hier bly nie. Eendag sal ons moet aanskuif na 'n ander gemeente: nuwe mense en nuwe uitdagings. Dit sal nie maklik wees nie want ons is lief vir die mense. Die Here sal wys wanneer dit tyd is. En as ek genooi sou word vir 'n onderhoud sal ek graag net een vraag wil vra: moet ek saam pannkoek bak? Want dan sal ek nie wil gaan nie. Net oor pannekoek? Ja, net oor pannekoek...flippen pannekoek...

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...