Hond...

Hond...

Sy spring altyd teen my op as ek gaan kuier - die klein, besige hondjie (Ounooi). Sy laat my altyd welkom voel omdat sy so opgewonde lyk oor my kuiertjie. Sy is deel van daardie familie - baie meer as wat sy in haar hondehartjie ooit kan weet. Maar vandag was 'n slegte dag. Sy het in 'n onbesonne oomblik by die hek uitgeglip en deur die heining by die erf oorkant ingegaan, en vergeet van die groot hond. Dit was 'n fatale fout. Dit het haar lewe gekos. Haar mens-familie huil vanaand soos 'n gesin wat 'n regte kind verloor het. Bejaardes se honde is meer as net 'n hond: hulle word kinders en bloedfamilie. 'n Tannie wat vir jare lank alleen saam met haar hondjie gebly het, het eenmaal gesê dat dit vir haar moeiliker sal wees om haar hond te verloor as om 'n kind te verloor - en sy het al drie kinders verloor. Ek kan dit nie vir 'n oomblik indink of voorstel nie omdat ek nog nooit dag en nag alleen saam met 'n hondjie moes wees nie. Dalk sit ek ook eendag alleen in 'n huisie of kamertjie - met net my hondjie by my. En as ons elke dag saam gaan slaap en saam opstaan, saam voor die TV sit en saam 'n vleisie braai, dan sal ek dalk beter verstaan. As jy by jou hondjie moet huil oor jou kinders wat nog 'n keer nie kom kuier het nie; of kersfees alleen saam jou hondjie vier en saam met hom dankie sê dat Jesus gebore is, dan word 'n hondjie seker meer as 'n hondjie: bloedfamilie, maatjie, kind, berader. Dalk het die Here juis hondjies gemaak om meer te wees as net 'n hondjie. Dalk was dit sy plan b vir 'n eensame wêreld. En vanaand dra ek sommer net al die hondjies wat meer as net 'n hondjie is aan die Here op...en ek weet Hy verstaan en hoor my. En ek weet Hy stort vanaand deur klein hondjies Sy liefde uit oor duisende alleen mense...

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...