Pelgrimstog....

Pelgrimstog...


Dis Vroeg Sondagmôre, so net na 6. Ek stap kerk toe - dis so ampertjies twee bokke. Dis my eie pelrgrimstog elke Sondag. Oppad kerk toe sien ek die mooi oggend, ek hoor die tortelduiwe, ek sien die glans van dou op die gras en bome maar ek sien ook die vuil parkie oorkant die kerk en die hospitaal met al sy nood oorkant die parkie. Die kerktuin is altyd mooi - dis vir my lekker om hier te kom. Op my klein pelgrimstoggie elke Sondagoggend vroeg sê ek vir die Here dankie vir die mooi dag en ook dankie vir my gesin. Ek sê dankie vir die voorreg om 'n werk (kerk) te hê en om te mag bedien op die manier waarop ek bedien. Ek bely my sonde voor Hom - Hy ken dit so goed en Hy ken my hart en my drome. En elke Sondag op my pelgrimstoggie kerk toe is ek verwonderd dat Hy steeds iemand so gebroke en gewoon soos ek gebruik...dis net genade. My dorings in die vlees leer my elke dag van genade: nie goedkoop genade nie maar God se duur genade. Duur genade maar gratis genade...ook weer vandag op hierdie Sondag. Ek skakel die rekenaars aan en skakel die ketel aan om vir my en die koster koffie te maak. Ek dank die Here vir ons nuwe koster en dat alles so mooi en skoon lyk. En ek sê vir die Here dankie vir ons tuinwerker wat ons tuine so mooi hou dat jy werklik die Algemene openbaring en Besondere openbaring elke Sondag saam kan beleef. Ek dink aan al die baie helpers (nie die simpel 7 nie maar die hardwerkende 100) wat binnekort hier gaan wees: Die musiekbedieningsgroep wat die musiek kom voorberei; die leiers van die kinderkerke wat netnou hier sal wees om vir die kinders op hulle vlak van die Here te leer; die oom en tannie wat die koffiekoppies kom regsit vir die koffie vooraf; die verstandelik-gestemde oom wat vroeg kom sodat hy op die regte tyd die klok kan lui; die kerkraad wat netnou in die konsistorie vergader om saam met my die diens aan die Here op te dra, die hekwagte, en heel laaste maar die belangrikste...al die mense wat hierheen kom om te aanbid en God te ontmoet. Dit bly die wonder van kerkwees en van eredienste: om saam met mekaar die Here te ontmoet. Mekaar se stemme te hoor, gesigte te sien, hande te druk en net weer te besef dat kerk meer is as 'n preek. Ek dank die Here vir elkeen van hulle en ek vra dat Hy hulle vandag moet seën. Hulle is kosbaar - elkeen op hulle eie manier. Ek is bevoorreg om deel van so 'n liefdes-gemeente te mag wees. Dis groot genade. Ek kan verstaan waarom die Psaldigter lank terug geskryf het dat hy verlang om na die "huis van die Here" te gaan en te gaan jubel. In dieselfde Psalm sê hy dat selfs die mossie 'n plek het by U altare. Watter geweldige genade en voorreg om 'n plek by die altare te hê...

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...