Hemelvaart...

Hemelvaart...


Lank gelede het God twee huise gebou: ‘n baie groot huis en ‘n kleiner huis. Die groter huis het Hy die hemel genoem en die kleiner huis het Hy die aarde genoem.

En Hy het miljoene mense gemaak om in die kleiner huis te bly.

Op ‘n dag het God besluit om vir ‘n rukkie lank by die mense in die kleiner huis te gaan kuier. Daar was net een probleem: Hy was te groot vir die kleiner huis.

Toe maak Hy ‘n plan. Hy besluit dat Hy baie klein gaan word. So klein soos die kleinste babatjie. En een nag terwyl al die mense rustig geslaap het, is Hy gebore in ‘n stal in Betlehem.

Vir 33 jaar het Hy op die aarde gebly. Hy het die mense geleer, Hy het wonderwerke gedoen, Hy het siek mense gesond gemaak., Hy het dooie mense weer laat lewe, maar meeste van alles: Hy het aan die kruis gesterf vir al die mense se sonde.

Uiteindelik het Hy alles klaar gedoen wat Hy wou doen. En Hy kon nie vir altyd so klein bly nie. Daarom het Hy besluit om terug te gaan na Sy groot huis.

Op ‘n dag het Hy al Sy dissipels bymekaar geroep en hulle gegroet. En toe het Hy teruggegaan na die groot huis wat Hy vir Homself gebou het. Die dissipels was baie hartseer toe Hy vertrek het.

Jesus het gesien dat hulle baie hartseer is. En toe maak Hy aan hulle ‘n belofte. Moenie huil nie. Moenie hartseer wees nie. Ek belowe Ek kom weer terug. En as Ek weer terugkom, sal Ek nie net ‘n kort rukkie kuier nie. As Ek weer kom sal Ek vir altyd en vir altyd by julle bly.

En toe vertrek Jesus na Sy groot huis toe.

Hoekom is die huis so groot? Want in daai huis is daar ‘n kamer vir elke een van ons. En as ons in die Here glo en lief is vir Hom, gaan ons eendag in daai groot huis gaan bly. En dan gaan ons vir altyd en vir altyd by die Here wees.

Hoekom bly Hy so lank weg? Want Hy gee ons nog tyd. Hy wil hê al die mense moet gereed wees as Hy kom. Hy wil nie hê een van die kamers moet eendag leeg staan nie.

Vandag is hemelvaartdag - die dag waarop Jesus teruggegaan het na die groot huis toe. En ons kyk op na die groot huis en sê: Kom terug Here, kom asseblief gou. En Hy antwoord ons deur die Bybel en sê: byt vas - Ek kom so gou as wat Ek kan!

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...