Job: biddende pa...
Job: biddende pa...
- Geskryf vir die manne-dagboek: Manne van die Woord (2018)
Job 1:4-5
Job se seuns het om die beurt partytjies gehou
in mekaar se huise. By sulke geleenthede het hulle dan hulle drie susters
genooi om saam met hulle fees te vier. Ná so 'n reeks partytjies het Job dan sy
seuns en dogters beveel om hulle vir die bring van offers te reinig, en vroeg
die môre het hy vir hulle almal 'n brandoffer gebring, “want,” het Job gesê:
“miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek.” Job het dit
elke keer gedoen.
Job se tien
kinders het gereeld partytjies gehou in mekaar se huise. Hy het iets reggekry
wat elke ouer graag wil regkry – dat ‘n mens se kinders ‘n stewige band moet hê.
‘n Mens kan nie help om te dink aan die Psalmdigter se woorde: Hoe lieflik is
dit wanneer broers saam woon. Maar Job het ook geweet dat kinders, veral in
sekere fases van hulle lewens, baie onverskillig kan wees. Elke keer wanneer sy
kinders ‘n partytjie gehou het, het hy sy kinders beveel om hulleself te
reinig. Dan het Job vroeg opgestaan en namens sy kinders vir die Here ‘n brandofferoffer
gebring. Job is nie net die ryk, geseënde pa met die gelukkige kinders nie. Hy
is ook ‘n pa wat vir sy kinders bid. Eintlik kom staan hy tussen hulle en die
Here en bring namens hulle offers vir dit wat hulle moontlik verkeerd gedoen
het. Selfs al is hulle al groot, neem Job die geestelike leiding. Hy is die pa
wat vir sy kinders bid, namens hulle offer en hulle uitnooi om reg te maak met
die Here. As pa is ek nie net
verantwoordelik vir die fisiese versorging van my gesin nie; ek is ook mede-verantwoordelik
vir hulle geestelike versorging.
Here, ek
bid vanaand vir my kinders. Ek kom staan tussen hulle en U en ek bid dat U
hulle genadig sal wees, soos wat U vir my genadig is. Vergewe hulle sondes,
soos U ook my sondes vergewe. Amen
- Geskryf vir die manne-dagboek: Manne van die Woord (2018)
Comments
Post a Comment