Job: seerkry...
Job: seerkry...
- Geskryf vir die manne-dagboek: Manne van die Woord (2018)
Job 1:13-19
Hy was nog aan die praat, toe kom daar nog een
met die nuus: “U seuns en dogters was besig om te eet en wyn te drink in die
huis van hulle oudste broer. Meteens het daar 'n sterk wind van die woestyn se
kant af opgekom en die huis van al vier kante af op u kinders omgewaai. Almal
is dood. Net ek het weggekom om dit vir u te vertel.”
In een dag
het Job letterlik alles verloor: sy beeste, kleinvee, kamele, maar ook al tien
sy kinders. In een dag het Job verander
van een van die rykste mense van sy tyd na een van die armste en stukkendste
mense van sy tyd. Hy het ontdek dat die lewe ‘n mens soms bitter seer kan maak.
Die rykdom wat ek vandag het kan môre weg wees: ‘n mens se besittings, jou
geseondheid, jou gesin, jou lewe. Job
doen wat mense wat rou in daardie tyd gedoen het: hy skeur sy klere, skeer sy
hare af en gaan lê plat op die grond. Hy is stukkend. Die Here se kinders kry
nie minder seer as ander mense nie. Wanneer hulle seerkry, rou hulle soos alle
ander mense. Dink maar aan Jakob wat die
nuus kry dat sy jongste seun Josef dood is; of Naomi wat terugkom na Betlehem
nadat haar man en twee seuns dood is; of Hiskia wat die tyding kry dat hy gaan
sterf. Dink maar aan koning Dawid wiese klein kindjie doodsiek is en uiteindelik
sterf. Ja, die lewe kan ‘n mens baie seer maak. Die Here se kinders is nie
hierdie seer gespaar nie – hulle kry net so seer soos alle ander mense. Hulle
beleef dieselfde fases van verlies wat alle ander mense beleef. Hulle lê ook
soms met geskeurde klere en uitgestrekte
hande plat op die grond.
Here, die
lewe maak ons ook baie keer seer. Hoor ons en help ons wanneer met ons
geskeurde klere plat op die grond voor U kom lê. Dankie dat U ook in sulke tye
by ons is. Amen.
- Geskryf vir die manne-dagboek: Manne van die Woord (2018)
Comments
Post a Comment