Kruispad...

Kruispad...

Ek ry elke dag deur talle kruispaaie. Soms is daar 'n stopteken en soms net 'n toegee-teken. Ons ry eintlik baie meganies oor kruispaaie - dikwels salig onbewus dat dit 'n kruispad is. En elke kruispad het meer as een opsie: reguit ry, links draai, regs draai, omdraai of sommer net vir altyd by die kruispad bly sit uit vrees om die verkeerde keuse te maak. Of om die pad te ry wat ek elke dag ry sodat ek kan uitkom waar ek elke dag uitkom. Ou paaie is veilig maar vervelig. Nuwe paaie is onbekend maar dikwels weer gevul met 'n nuwe mooi en 'n nuwe bewondering. Die lewe self is ook vol allerhande soorte kruispaaie. En elke kruispad is vra vir nuwe keuses: dieselfde pad as gister of 'n nuwe pad met nuwe scenery. Die kleiner kruispaaie is bietje makliker; die groter kruispaaie is moeiliker. Dink maar net aan die kruispad van 'n mense se beroep; of vriende; of verhoudings; of geloof. Dis moeilike kruispaaie. Die maklikste opsie is om die roete te volg wat ons nog altyd volg sodat ons uitkom waar ons nog altyd uitgekom het. Sekere fases in 'n mens se lewe bring 'n mens ook vanself by groter kruispaaie: dink maar net aan die fase na skool of  'n mens se middeljare of jou aftree-jare. Kruispaaie se diepste betekenis is dat dit jou uitdaag om nuwe roetes met nuwe vreugdes en risiko's te kies. Ek beleef vandag so 'n kruispad. Enige iemand wat al by 'n groot kruispad was sal saamstem dat kruispad-tye moeilike tye is. Die Bybelmense het ook kruispaaie beleef; dink maar aan Adam en Eva by die boom; of Abram - daardie dag toe die Here vir hom gesê het om te trek; of Naomi in Moab; of die dissipels na die hemelvaart. Die beste vriende is waarskynlik die kruispad-vriende: die mense wat self iets verstaan van kruispaaie en bereid is om saam met jou te vertoef en 'n nuwe roete te kies. Kruispadtyd is moeilie tyd maar wonderlike tyd. Dit bly onverstaanbaar dat God ons toelaat om by elke kruispad self die roete te kies. Genadiglik is 'n mens nie alleen by die kruispad nie. Die kruispad-God is saam met jou. Saam met die Psalmdigter by die kruispaaie in sy lewe kan ons ook bely: die mens beplan sy pad maar die Here bepaal die pad wat jy moet loop...

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...