Gebed van 'n liturg...

Gebed van 'n liturg...

Vader, die uur het gekom. Ek moet binnekort namens U met die mense (en myself) praat en namens die mense met U praat. Ek is bang om te sê: So spreek die Here. Ek is 'n onwaardige middelman want my eie lewe is vuil en vol merke; soos aan Dawid se hande is daar bloed aan my hande. Ek hakkel soos Moses wanneer ek namens U moet praat. Ek kruip weg soos Elia omdat ek ook soms bang raak. Maar dankie dat U wel gewone mense soos ek gebruik - ek is juis sterk wanneer ek swak is. Dankie vir die voorreg om vanoggend te mag doen wat die profete oor soveel jare gedoen het. Dankie dat ek soos al die rabbi's van ouds die Heilige Skrifte mag oopmaak en daaruit mag lees. Dankie vir 'n Bybel in my eie taal en idioom. Ek bid dat U vanoggend dit sal doen wat ek nie kan doen nie: mense se harte en lewens aanraak wanneer U self met hulle en met my praat. Gee tog dat die saad vanoggend in vrugbare grond val, selfs al sou ekself nooit die vrug sien nie. Mag elke lied wat ons vanoggend gaan sing, elke liriek en melodie en harmonie vir U aanneemlik wees. Mag ons dankoffers vanoogend meer as 'n kollekte wees en ons gebede meer as net mooi woorde. Ons sou so graag aan U wou raak soos die Kaanaanitiese vrou, maar ons kan nie...kom raak U aan ons - 'n Goddelike aanraking. Help ons om vanoggend nie net boontoe te kyk nie maar ook rond te kyk met sagte oë vol deernis en liefde. Mag ons samekoms meer wees as 'n vergadering of 'n gewone byeenkoms. Gee vir my self ook die deernis en liefde vir die mense voor my wanneer ek namens U met hulle en myself praat. Dankie dat Jesus vir my en vir hulle gesterf het en dat ons daarom met vrymoedigheid U kan aanbid. Dankie vir al die gawes wat U vir ons gegee het: die ouderlinge en diakens, die musikante, die tegniese span, die kinderkerkleiers, die voorbidders, die mense wat ons bedien met koffie en tee maar ook vir hulle wat ons motors oppas. Seën elke een van hulle vanoggend in dit wat hulle doen. En as ons 'n rukkie van nou af huistoe gaan, help ons om te gaan uitdeel wat ons ontvang het en te gaan ontvang wat ander aan ons wil uitdeel. In Jesus se naam, Amen.

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...