Om weg te loop...
Om weg te loop...
Ek dink almal van ons het op een of ander
stadium gevoel dat ons wil wegloop - sommer net ons tassies pak en loop. Dit
gebeur nogal gereeld met kleiner kinders. Meesal wil kinders wegloop omdat
hulle kwaad of vies is vir hulle ouers.
Lukas 15 vertel die verhaal van ‘n seun wat
weggeloop het. Hy het vir sy pa sy deel van sy erfporsie gevra en vertrek na ‘n
ver land – weg van sy pa af. As ‘n mens Luk 15 lees, kan jy nie help om raak te
sien dat die seun se pa ‘n goeie pa was nie. Tog was sy seun nie gelukkig nie,
en het hy besluit om weg te loop. Hy het gedink dat die lewe buite sy vader se
huis beter sou wees: lekkerder, avontuurvol en vry. Op ‘n harde manier het hy
geleer dat die lewe daar ver nie so wonderlik is nie. Daarom het hy teruggegaan
na sy vader toe. Sy vader het hom met ope arms ontvang.
Dikwels gaan ouers deur ‘n klomp seer omdat
hulle kinders nie noodwendig raaksien wat hulle ouers vir hulle doen en gee
nie. Dikwels voel ouers dat hulle dit nie gemaak het nie – hulle beste pogings
was net nie goed genoeg nie. Ek dink die pa in Lukas 15 moes ook so gevoel het.
Ouers blameer dikwels hulself vir baie dinge in hulle kinders se lewens; dinge
wat nie noodwendig hulle fout was nie.
Die verhaal in Luk 15 eindig genadiglik mooi
omdat die seun terugkom huistoe – alle wegloopkinders kom nie huistoe nie. Die Bybel
vertel nie vir ons hoe lank die seun weg was nie - dalk baie jare. Jare van
slapelose nagte vir ‘n pa en waarskynlik ook vir die ma. Maar op ‘n dag het die
seun teruggekom. Hy moes in ‘n varkhok gaan draai om te besef hoe kosbaar sy pa
(en sy ma) is.
Hierdie verhaal gee hoop vir ouers was seer
het. Dit gee ook hoop vir almal wat tans wegloop, van aardse ouers of van God
af. Ouers sal altyd wag, altyd uitsien na die tuiskoms - God die Vader doen ook…
Mooi dag!
Coenie
Comments
Post a Comment