Gee ons vrede
Gee ons vrede Ek kyk gister 'n kort videotjie oor die "oorlog" in Israel. Ek sien hoe groot geboue inmekaar val; mense hardloop desperaat om skuiling te soek. In die afgelope dae het baie mense reeds gesterf. Dis 'n oorlog met 'n lang en ingewikkelde geskiedenis - oom Clifford het vir ons 'n mooi opsomming gemaak in eerskomende Sondag se Hartklop. Die "Heilige Land" is soms alles behalwe 'n prentjie van heiligheid. Wat 'n mens veral opval, is die kommentaar van lesers en kykers. In hierdie bloedige stryd is miljiene mense fanaties aan die kant van die Jode OF die Palestyne. Hulle moedig aan en hits aan. Die haatspraak is opvallend. Dis moeilik om te dink dat dit juis in hierdie klein landjie was waar God jare gelede kom woon het. Dis hier waar die engele gesing het: "Vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het". Dis in hierdie klein landjie waar Jesus op die berg gesit het en gesê het "salig is die vredemakers...