Sein in die hemel
Sein in die hemel?
PREDIKER 3:5
Daar is 'n tyd om te omhels, 'n tyd om weg te bly van omhelsing af.
Robbie Wessels sing 'n lied oor sy vriendin wat oorlede is in 'n motorongeluk naby Beaufort-wes. Hulle het vir mekaar 'n sms gestuur om te sê "veilig ry"...nie geweet dat hulle nooit weer met mekaar sou praat nie. Hy wens daar was sein in die hemel en dat hulle nog vir oulaas 'n boodskappie kon stuur...
My skoonma is gistermiddag omtrent 1uur oorlede. Tersia het die voorreg gehad om daar te wees tot die laaste oomblik. Ek, en meeste ander familie, kon nie daar wees nie; ons kon nie groet nie. Ek kon ook nie my eie ma en pa groet nie.
Ons leef in 'n wêreld met so baie kommunikasiemediums: briewe, eposse, selfone, sms, whatsapp, twitter, noem maar op. En tog, as iemand sterf, is alle kommunikasie verbreek. Dis doodstil.
Ek wens saam met Robbie Wessels dat daar sein in die hemel was. Ek sou graag wou groet; ek sou graag wou hoor of skoonma veilig aangekom het. Ek sou wou vra hoe dit lyk en hoe haar nuwe blyplekkie lyk. Ek sou wou hoor of sy dalk my pa en ma raakgeloop het - hoe lyk hulle vandag? Maar dis doodstil. Daar is nie sein nie. Geen Vodacom, MTN of Starlink. Ek dink dis die seerste deel van weggaan - om nie weer te kan gesels nie. Geen "hallo" of "hoe gaan dit?" of "lekker slaap" nie. Doodse stilte. Eendag sal ons wel weer gesels sonder dat iemand sal moet groet...
Ek vind my troos in die wete dat dieselfde Here wat by haar is (of by Wie sy is), ook hier by my is. Soms, vir 'n oomblik, dink ek (of droom ek) dat Hy wel vir haar sal sê ons stuur groete en liefde. Ek het, na my pa se dood (ek was maar 28 op daardie stadium), wel vir die Here gevra om vir my pa nog een keer te sê ek is lief vir hom - tot vandag nog glo ek dat Hy dit gedoen het...
Laat ons vandag voluit leef saam met almal wat nog hier by ons is: huweliksmaats, kinders, ouers, vriende, kollegas. Dis 'n voorreg om te kan gesels, bel, sms en whatsapp. Dis 'n voorreg om seintorings en sein te hê. Leef voluit! Gesels! Geniet dit!
Mag jou dag vol sein wees!
Groete, Coenie
https://youtu.be/hHQytyxGm-8?feature=shared
Comments
Post a Comment