Pleisters is nie genoeg nie

Pleisters is nie genoeg nie

‭‭PSALMS‬ ‭147:3‬ Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde.

‭‭JEREMIA‬ ‭8:21‬ My volk se wonde is ook my wonde, ek is in die rou, deur angs oorweldig. 

Ek hou nie van seerkry nie. Ek kan dit nog minder hanteer as my kinders seerkry. Toe hulle klein was, het hulle dikwels seergekry - 'n toon nerf-af gestamp, 'n vinger in 'n deur vasgeknyp of 'n knie stukkend geval. Maar dit was eintlik klein seerkry. Meesal was 'n pleister saam met 'n drukkie en 'n soentjie genoeg. Dit was gou weer beter.

Soos wat hulle groter word, het die seerkry ook groter geword. Dit was nie meer seer vingers en tone nie, maar maats wat boelie, 'n onderwyser wat boelie, uitsluiting en verwerping. Saam met die vreugde van jong verhoudings kom ook dikwels die seer van jong verhoudings wat nie uitwerk nie. Die pleisters, drukkies en soentjies van kleintyd kon nie meer die seer plekkies toemaak nie.

In die grootmens-wêreld lyk seer anders:  'n onregverdige baas, 'n moeilike kollega, finansiële druk, huweliksprobleme, gesondheidsprobleme, ens. My kinders is nie meer klein nie, maar hulle seer is steeds my eie seer. Hoe graag sou ek nie 'n pleister daaroor wou plak en met 'n drukkie en soentjie hulle seer wegvat nie. Dis nie 'n maklike wêreld waarin hulle bly nie.

Daarom kniel ek vandag namens hulle voor die Here, die Een wat gekom het om ons wonde te genees - die Een wat geknakte riete nie breek nie (Jes 42:2). In die tye wat hulle sukkel om te glo, glo ek namens hulle. Soos Job bid ek ook vroeg in die oggend vir hulle. Ek hou vas aan die beloftes wat die Here vir hulle gemaak het by hulle doop - dat Hy hulle nooit sou los nie. Ek vra vir die Here om te wees waar ek as ouer nie kan wees nie - in die klas, op die speelgronde, in hulle werkplek en in hulle huise. Ek gee hulle seerplekke vir die Here. Ek hou vas aan Hom, die Geneser. Ek gee vandag ook my vrees, angs en bekommernis oor my kinders vir die Here. Hulle sal veilig wees. Ons ook.

Groete, en mooi dag!

Coenie

https://youtu.be/1GH9kRgWnHg?feature=shared

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...