Gee ons vrede

Gee ons vrede

Ek kyk gister 'n kort videotjie oor die "oorlog" in Israel. Ek sien hoe groot geboue inmekaar val; mense hardloop desperaat om skuiling te soek. In die afgelope dae het baie mense reeds gesterf. Dis 'n oorlog met 'n lang en ingewikkelde geskiedenis - oom Clifford het vir ons 'n mooi opsomming gemaak in eerskomende Sondag se Hartklop. Die "Heilige Land" is soms alles behalwe 'n prentjie van heiligheid.

Wat 'n mens veral opval, is die kommentaar van lesers en kykers. In hierdie bloedige stryd is miljiene mense fanaties aan die kant van die Jode OF die Palestyne. Hulle moedig aan en hits aan. Die haatspraak is opvallend.

Dis moeilik om te dink dat dit juis in hierdie klein landjie was waar God jare gelede kom woon het. Dis hier waar die engele gesing het: "Vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het". Dis in hierdie klein landjie waar Jesus op die berg gesit het en gesê het "salig is die vredemakers". Dis hier waar Jesus vir Petrus beveel het om sy swaard te bêre en daarna Malgus se oor genees het. Dis die land van die "Prins van vrede", die Vredevors - dié een wat Jerusalem nie op 'n perd (die simbool van oorlog) binnekom nie, maar op 'n nederige donkie.

Daarom is oorlog feitlik afwesig in die bladsye van die Nuwe Testament. Jood en Griek en onbeskaafdes kom bymekaar - hulle word God se nuwe volk. Die Heilige Gees kom nie net oor Jode nie maar ook op die ander volke. Jesus verander 'n oorlogstorie in 'n vredestorie. Sy kinders is vredemakers.

Kom ons tree aanhoudend in vir die geboorteplek van ons Verlosser en ook van ons geloof. Bid dat alle mense, Jode en Palestyne, vir Jesus sal leer ken. Bid dat God 'n einde sal bring aan die jarelange oorlog - dat die Vredevors se koninkryk sal kom in Israel en Gaza.

Ek deel vanoggend met julle hierdie spesiale lied waar Jode en Arabiere in Israel saam sing en God aanbid. Ons sing ook dikwels hierdie lied: Above all powers...above all kings...crucified...

Ek wens vir jou 'n dag vol vrede!

Coenie


https://youtu.be/LtcxE4xF5So?feature=shared



Luister gerus ook na hierdie gebed:


https://youtu.be/uBwY0yhL2KI?feature=shared

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...