Om gelukkig the wees... (4)

Om gelukkig te wees…

Ons gesels hierdie week oor die dinge wat ‘n mens gelukkig maak: (lekker kos), kinders met wie dit goed gaan, ‘n goeie huweliksmaat, en laastens DIE DINGE WAT DIE HERE GEDOEN HET.

In 1 Kon 8:62vv lees ons ‘n mooi verhaal. Na baie jare se droom en uitsien maar ook harde werk het Salomo die tempel voltooi. Die hele volk trek nou op na die tempel toe. By die tempel aangekom vier hulle fees vir 7 dae en daarna nog 7 dae (die Jode hou van feesvier en hulle weet hoe!). Daar by die tempel bring hulle hulle offers aan die Here. 

Dan lees ons die volgende in vers 66: “Die dag daarna het Salomo die volk laat gaan. Hulle het hom gegroet en is terug huis toe, bly en gelukkig oor die goeie dinge wat die Here gedoen het aan sy dienaar Dawid en sy volk Israel.” (Kyk ook na 2 Kron 7:10). 

Die volk is nie net bly oor Salomo se tempel nie; hulle is ook nie net bly oor 14 dae se lekker kos en feesviering nie. Hulle is bly oor “die goeie dinge wat die Here gedoen het”. Agter al die suksesse, die hoogtepunte, die oorvloed, sien hulle die Here se hand raak en hulle is bly en gelukkig daaroor.

Sien jy die Here se hand agter al die mooi en lekker van jou lewe? Is jy bly en gelukkig oor alles wat die Here vir jou gedoen het en steeds doen?

Miskien moet ons hierdie jaar ons stilletyd verander dat dit regtig “stil-tyd” sal wees.
Niks praat nie,
net kyk en luister,
nadink oor ons lewens -
alles wat die Here in ons lewens doen:
die voorreg om te kan loop, praat, dink, sien, hoor,
die voorreg om sport te mag beoefen,
die voorreg om te kan werk,
die voorreg om ‘n gesin te hê...en vriende,
‘n huis om in te bly,
‘n stoof om kos op te maak,
‘n kerkgebou waarin ons kan aanbid,
skole waarin ons kinders kan leer…
Miskien moet ons ‘n bietjie meer nadink oor alles.
En dan sal ons (soos die Israeliete) huistoe gaan, BLY en GELUKKIG oor al die dinge wat die Here gedoen het.

Gelukkige dag!
Coenie

https://youtu.be/19LfcBM50zU?feature=shared

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...