Eenvoudige mense

 

Dagstukkie – 20 Januarie 2025

“Ek prys U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het” (Mat. 11v25-26).

Toe ons vanoggend hierdie vers lees asook oom Clifford se mooi aanbieding, kon ek nie help om te dink aan dit wat iemand eenmaal geskryf het nie: die mense wat die grootste indruk op ons maak, is NIE die mense wat ons iewers in ’n hoek vaskeer en probeer “bekeer” nie, maar die mense wat hulle geloof in alle eevoud en opregtheid uitleef.

Op my en Tersia se pad was daar talle sulke “eenvoudige” mense wat ons lewens aangeraak het. Ons onthou oom Frans, die Sondagskoolhoof, wat elke Sondag die opening gedoen het, die verjaarsdae gelees het, en ons laat sing het. Ons onthou vir oom Josef, die dienende leier-ouderling wiese dogter in ’n motor-ongeluk oorlede is – hoe hy daardie jare die eredienste op kassette opgeneem het en versprei het. As ek vroeg-oggend by die kerk kom, was oom Josef al daar; ’n ongekende liefde vir die Here. Ons onthou vir Henry, iemand wat nie geleerd was nie maar so naby aan die Here geleef het. Ek sou baie name kon noem. Ja, langs ’n mens se lewenspad is daar klomp mense wiese name ’n mens by hierdie teksvers sou kon byskryf.

Hier in Onrus het ek ook al talle sulke mense ontmoet: geleerdes en ongeleerdes, maar mense wiese lewe spreek van ’n eenvoudige, diep, kinderlike geloof in God. Sommige van hulle het grade en geleerdheid, maar in hulle geloofslewe is hulle eenvoudige navolgers van God. Hulle lyk soos Jesus. Hulle vou Hartklop-bladjies, verwelkom mense by die deure, lei omgeegroepe, maak sop, ry sop aan, sing in musiekgroepe, wys parkeerplekke aan, lei vergaderings en plant kruise in Hawston en Zwelihle. Vandag wil ek, soos Jesus, ’n spontane lofgebed uitspreek oor hierdie mense: “Ek prys U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het”.

My hart is vol lof vandag. Ek wil spontane lofgebede bid...oor die eenvoudige mense, die sagte reëntjie, die mooi berg, ’n nuwe week, gister se erediens, vandag se geleenthede en môre se hoop.

Mag jou dag vol spontane dankgebede wees.

Coenie

(NS. Dink bietjie aan die eenvoudige mense op jou pad tot hier en dank die Here vir hulle).

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...