Alledaagse plekke
Die verhaal van Jesus se verskyning aan die dissipels (Joh 21) maal nogsteeds by my: die visbraai langs die see van Galilea. Dit was Sy derde verskyning aan Sy dissipels. Die eerste twee was in Jerusalem en die derde een hier in Galilea.
Jesus se opdrag aan Sy dissipels was om terug te gaan na Galilea - hulle sou Hom "daar sien" (Mat 28:10). Hulle gaan terug na die dorpies waar hulle gebly het. Hulle gaan terug na hulle gewone werkplekke en gaan doen wat hulle altyd gedoen het: Petrus, Johannes en Jakobus vang weer vis (dit lyk of die visvang-gogga nou ook vir Tomas en Nataniël en twee ander dissipels gebyt het - John 21:2).
En dis waar Jesus dan verskyn: daar langs die see; daar waar hulle visvang. Letterlik in hulle werkplek. 'n Mens sou verwag dat die opgestane Here in die tempel verskyn, of op die markplein. Wie sou Hom verwag het langs die viswaters? Sommer net so in die gewone, alledaagse lewe...en dit nog vroeg-oggend, voor ontbyt?
Ek dink dat Jesus ook dikwels na ons kom op die mees onverwagse en alledaagse plekke. Hy ontmoet mense steeds langs die viswaters, in die "malls", langs die see, op die speelgrond en in hulle eie agterplase. Hy is nie beperk tot kerkgeboue, kapelle en katedrale nie. Hy word ook gevind in binnekamers, in Fernkloof, in hospitaalkamers en in gewone woonbuurte.
Mag Hy jou daagliks verras met die plekke en situasies waar Hy "verskyn". Mag jy Hom raaksien wanneer Hy verskyn, soos wat Moses raakgesien het toe die bos brand. Iemand het eenmaal gesê: Elke bos brand met God, maar net hy wat dit raaksien trek sy skoene uit.
Die Here weet wat jy nodig het. Mag Hy jou verras soos wat Hy daardie oggend die dissipels verras het. Hulle was honger, en Hy het kosgemaak. Dalk is jou nood anders as hulle s'n: versoening, genesing, vergifnis, wysheid, bekering...mag Hy gee wat jy nodig het...
Groete en mooi dag!
Coenie
https://youtu.be/bc_YDNMVQKk?feature=shared
Comments
Post a Comment