Kom eet!

As daar twee woorde is wat 'n mens seker in alle huise hoor, is dit die woorde "kom eet!". Ek is al 58 en dit bly vir my lekker om daardie woorde te hoor. Ek het dit by my ouma en by my ma gehoor; vandat ek getroud is hoor ek dit by Tersia. Omdat ek graag kosmaak, sê ek dit dikwels self.

"Kom eet" is nie 'n opdrag nie; dit is 'n uitnodiging. Dis die woorde van 'n gasheer of gasvrou. Dit sê die kos is gereed, die tafel is gedek. Eintlik sê dit meer as dit. Dit sê "kom sit by my tafel - ek wil graag saam met jou kuier". 

Etenstye gaan oor meer as kos. Ons lekkerste gesinstyd is random die tafel en rondom kos. Dis waar ons kuier. Wanneer gemeentelede ons nooi vir ete gaan dit oor baie meer as net kos - dit gaan oor die kuier, gesels, lag, deel en saamwees. Dis altyd baie kosbaar.

In Johannes 21:12 sê Jesus vir Sy dissipels: "Kom eet!". Dit gaan oor meer as die vis en brood. Hy wil saam met hulle kuier. Ek kan maar net raai wat alles daar "om die tafel" (om die braaier) gepraat is...oor die afgelope paar dae se dinge, die kruisdood, die opstanding en die pad vorentoe. Dit moes 'n baie spesiale en kosbare ete gewees het. 

Dieselfde Johannes wat hierdie gebeure neergeskryf het, skryf later in Openbaring (3:20) dat Jesus by die deur staan en klop. As jy vir My oopmaak sal Ek inkom en saam met jou 'n "feesmaal hou". Ek wil inkom en saam met jou eet en kuier. Ek wil jou hart hoor en Ek wil my planne en my Wil met jou deel. Ek wil jou gewone lewe verander in 'n feesmaal.

Mag jy vandag iets van hierdie fees beleef...

Mooi dag!
Coenie

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...