Badtyd

As ‘n klein seuntjie was ek baie lief vir bad. Bad was baie meer as net om net jouself skoon te kry. Ons was drie seuns en badtyd was ’n groot avontuur. As my ma uit die badkamer gaan, het ons teen die agterste skuins kant van die bad afgegly – dit was sover ek kon onthou ons eerste “supertube”! Maar ek onthou ook dat ons met die seepbakkies gespeel het: hulle het soos klein skippies op die water gedryf. Ek was altyd verstom dat ’n seepbakkie met ’n koekie seep daarin, op die water kan dryf - ek is steeds verstom.

Ek het al baie gewonder wie het seep uitgedink – arme mense wat geleef het voor die tyd van seep. Maak nie saak hoe vuil ons drie seuns was nie, die badwater en die koekie seep het ons elke keer weer silwerskoon gemaak. Dit bly een van die lekkerste dinge op aarde: om weer skoon te kom. As ons bad stories kon vertel, sou hy waarskynlik baie stories kon vertel oor drie vuil seuntjies, en hoe hulle weer skoon gekom het.

Soos wat ons groter en ouer geword het, was dit nie meer net ons gesigte, hande en voete wat vuil was nie. Langs die lewenspad het ons ook op ander maniere “vuil” geword. Die sonde en al die lelike dinge het ook aan ons kom vaskleef. Elkeen van ons drie boeties sal waarskynlik ’n ander verhaal kan vertel oor die pad wat ons geloop het, en hoe ons vuil geword het. Die Bybel sê ons almal het gesondig en is ver van God af (Rom 3:23; 1 Joh 1:8).

Dit was ’n soort vuil wat seep nie kon afwas nie. Dit sit nie aan jou hande en voete vas nie maar in jou hart. Dit het gemaak dat Dawid nie die tempel kon bou nie. Dit het gemaak dat Jesaja uitgeroep het: “Ek is verlore!” (Jes 6:5) Dit het Paulus laat uitroep: “Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” (Rom 7:24) Ek dink ons almal het al iewers langs die lewenspad vuil geword. Jesus het gesê dis nie die dinge wat in jou liggaam ingaan wat jou vuil maak nie, maar die woorde en gedagtes was daar uitkom (Mat 15:11).

Twee duisend jaar gelede het Jesus dit kom doen wat ’n koekie seep nie kan doen nie: Hy het gesterf vir ons sondes. Hy het ons sonde kom afwas. Sy bloed het ons gereinig – skoon gemaak. Elke vuilkol en elke vlek is afgewas. Ons het nuut geword. Rein. Dis badtaal: was, reinig, skoon.

Glo jy dat jy regtig skoon is? Rein? Heilig? Dis wat Jesus vir jou kom doen het; dis waarvoor Hy gesterf het. Aanvaar dit weer vandag. Glo dit. Leef dit. Leef skoon. Leef heilig.

Mooi dag!
Coenie

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...