Motorhuise en bokse
Elke motorhuis lyk anders. Een van die motorhuise in ons kompleks is altyd klinies netjies: niks wat rondstaan en niks wat hang teen die mure. Ander motorhuise is omskep in 'n woonstel vir eksta slaapplek. Oom Clifford se een motorhuis is 'n "man-cave"; dis sy stilword-plekkie.
Toe ons in Potch gebly het, was my motorhuis 'n plek vir alles wat nie 'n plek het nie. Elke ding wat nie iewers in die huis pas nie, word stilletjies in die motorhuis neergesit. So ook word alles wat reggemaak moet word, in die motorhuis neergesit: 'n strykyster wat stukkend is; 'n muurhorlosie wat geval het; 'n braaipan wat nie warm word nie; en baie meer. Gé Korsten het dit mooi opgesom met sy lied: "Pappa maak dit reg".
Dan is daar die motorhuise wat vol bokse gepak is (ek kies doelbewus die woord "boks"). Meeste van hierdie bokse gaan nooit uitgepak word nie. Vra my, ons is drie jaar hier en daar is nog heelwat bokse in my motorhuis - ek het selfs al rakke daarvoor aangebring. Op drie van hulle het Tersia sommer net "sentiment" geskryf. Hulle is vol items wat langs ons lewenspaadjie vir ons kosbaar was. Ons het nie meer plek daarvoor nie, maar is ook nog nie reg om dit te laat gaan nie.
Al hierdie bokse vertel 'n storie. Wat belangrik is, is nie al die aandenkings daarin nie, maar die mense saam met wie ons dit bymekaargemaak het. Elke aandenking het 'n storie, 'n plek, 'n herinnering - en dis die eintlike rykdom. Eintlik gaan dit nie oor goed nie, maar oor mense. Dis dalk die rede waarom ons dit nie laat gaan nie. Dit herinner ons aan die plekke waar ons was en aan spesiale saam-tye.
As ek my lewe kon oorhê, sou ek nog minder geld aan dinge spandeer, en meer aan mense. Ons grootste rykdom op aarde is nie dinge nie, maar mense. Doen vandag iets spesiaal saam met jou vrou; bel jou kinders; drink koffie saam met 'n vriend; gee 'n broodjie vir iemand wat honger is. Die bokse kan op 'n ander dag uitgepak word...
Mooi dag!
Coenie
Comments
Post a Comment