Spoedbeperkings
Ek het eenmaal gehoor van die twee tannies wat deur die verkeerskonstabel afgetrek is omdat hulle 100km/h in 'n 80-sone gery het. Die tannie agter die stuurwiel verweer haarself en sê: "Maar daar was 'n bordjie waarop gestaan het R100?". "Nee tannie", antwoord die verkeerskonstabel, "R100 is die roetenomer, nie die spoedperk nie!" Die tannie in die passasiersitplek stamp aan haar en sê saggies: "Dis goed Hy het ons nie gesien toe ons op die R300 gery het nie!"
Dit gons hierdie week oor die moontlike nuwe spoedperke en boetes. Ons gaan oral so 10km/h stadiger moet ry. Of dit nou waar is of net nog 'n gerug, is nie so duidelik nie. Maar ek wonder of die ou wat hom nie steur aan die huidige beperkings nie, hom nou meer sal steur aan die nuwe beperkings. Sal die ou wat nie 60 wou ry nie nou wel 50 ry?
In die tyd van die Ou Testament was daar baie sulke wette. Die latere Fariseërs het die "spoedperk" gereeld afgebring vir die gewone mense, maar self nie altyd by die spoedgrens gehou nie. Hulle was soos die bloulig-brigade van daardie tyd. En hulle hét seker gemaak almal hou by die spoedgrens. Kyk maar in Johannes 8 wat doen hulle met 'n vrou wat die spoedgrens oortree het... (Joh 8:3)
Paulus het lank terug geskryf dat die wet eintlik die sonde uitdaag of uitlok (Rom 7:7-8). Daarom het die wet eintlik misluk (Rom 7:10). Jesus bring 'n nuwe bedeling - ons is vry van die wet. My lewe is nie meer 'n konstante poging om net-net binne die wet te bly nie; of om maar net betyds te rem vir die spoedlokval nie. Ons word nie beheer deur wette van buite nie, maar deur IEMAND van binne. Ons geniet nou die vreugde van ry, die mooi natuurskoon langs die pad, die rustigheid binne-in die motor, die veilige rit en die veilige aankoms - daarom bestuur ons nou anders. Dit geld vir elke faset van ons lewens. Ons is vry. (Gal 5:13)
Ons het nie nog méér wette en laer spoedperke nodig nie. Ons het gehoorsame bestuurders nodig; mense wat besef dat orde ons almal se lewens beter en veiliger maak. Ons het landsburgers met nuwe harte nodig - mense wat anders dink en anders bestuur omdat hulle harte verander het. Of ons ooit daar gaan kom, weet ek nie...
Mag jy hierdie vryheid en vreugde elke dag beleef. Ry betyds; ry lekker; ry mooi; geniet die rit. Mag dit ook waar wees van jou lewensreis.
En mag die spoedgrens onveranderd bly!
Groete
Coenie
Comments
Post a Comment