Groet-mense
Vrydag refleksie - 1 Aug
Groet-mense
En so begin die 2e helfde van 2025 amptelik. Augustus, vernoem na die bekende keiser Augustus, is die maand van wind. Hier onder in die Kaap is ons deeglik bewus van wind en reën. Maar dis geseënde tye, wind of reën of sonskyn - dis genade. God is goed.
Vir baie mense was die week skrikwekkend: die sesde grootste aardbewing op rekord (8.8) en die tsunami daarna... Verwoestend. Ek verstom my aan die mense wat staan en wag vir die golf om net gou 'n video te neem voordat hulle vlug en skuiling soek...ai, ons ou mensdom (soos my ouma lank voor selfone al gesê het). Jy speel nie met die natuur-elemente nie.
Ek dink vandag sommer aan ons wandeling laas naweek. Ons het die "cliff path" vanaf die hawe na Grotto en terug gestap. Daar was baie mense op die roete, meer as ooit, meesal uitlanders. Ons het op alle moontlike maniere gegroet met "hallo", "hello", "hi" en "good afternoon" maar ons kon van 'n klomp mense geen reaksie kry nie. Hulle maak geen oogkontak, maak geen geluid en ook geen kopknik nie. Hulle kyk net voor hulle. Hulle kom waarskynlik uit 'n baie onvriendelike land of dorp.
Dit kan nie lekker wees om so nors te wees nie. Hoe loop jy verby mense sonder om te groet? En hoe groet jy nie terug as mense jou groet nie? Ons het dit sommer tydens ons eerste dag in graag een geleer: "Môre juffrou, môre maatjies". In die hoërskool het die Duitse juffrou ons gegroet met "Guten Morgen, Jungen" en die Sotho-meneer het vir ons geleer om ten minste "dumela" of "dumelang" te sê.
Jesus praat oor liefde en sê julle moenie soos die heidene wees nie: hulle groet net hulle broers (Mat 5:47). Dus, julle moet almal groet! Dit lyk vir my groet is nie net mooi maniere nie maar dis 'n Bybelse ding. Christene behoort groet-mense te wees. Daarom begin elke erediens (net soos Paulus se briewe) met 'n groet (Rom 16:16; 2 Kor 13:12). By die deure staan mense wat ons groet wanneer ons by die kerk kom. Dis 'n gawe om te groet. Dis 'n vrug van die Gees (vriendelikheid - Gal 5:22). En dis 'n opdrag van Jesus self.
Die swart vroutjie by die beskuit-winkel vertrek more terug na Zimbabwe. Sy het my altyd so vriendelik gegroet met die mooiste glimlag. Ek het belowe ek sal kom groet voor sy vertrek. Haar vriendelike groet het dikwels my dag beter gemaak.
Mag ons groet-mense wees! Mag elke persoon wat hier aandoen vriendelik gegroet word.
Mooi dag!
Coenie
Comments
Post a Comment