Leiers: Wie kan ons vertrou?
Dit was ’n woelige week in ons eie land: verskeie ministers, kommissarisse en LP’s is tans tydelik geskors. Daar hang 'n wolk oor baie ander - ook oor ons president. Ons het 'n leierskapkrisis.
In Amerika gaan dit nie baie beter nie: die Jeffrey Epstein vrae wil net nie ophou nie. Een of ander tyd gaan die bom bars.
Die hele wêreld gons op die oomblik oor Jeffrey Epstein. Internetsoektogte oor hierdie tema het hierdie week met 1200% gestyg. Verskeie belangrike mense se name word genoem. Die groot vraag is: sal die waarheid ooit uitkom? Sal ons ooit weet wat regtig gebeur het en wie almal betrokke was?
Agter al hierdie dinge is daar ’n groter en dieper vraag: wie kan ons vertrou? Kan ons nog ons leiers vertrou? Kan ons staatmaak op hulle eerlikheid en integriteit? Is hulle navolgenswaardig?
Jeff Daniels kyk na Amerika en som dit mooi op: “We’ve lost decency, we’ve lost civility. We’ve lost respect for the rule of law. We have normalized verbal abuse on the internet; we’ve normalized bullying… And along, out the window goes character, integrity… Ideally we’re supposed to elect the best of us, not the worst of us.”
Ek dink baie van ons beleef groot teleurstelling in leiers. Dalk het ons self ook al (as leiers) mense teleurgestel.
In die afgelope week het ons afskeid geneem van die bekende TV-prediker, Jimmy Swaggert. Hy was prediker en leier in ’n baie groot kerk in die VSA. Ek het graag na sy preke op TV gekyk. Hy het ook op 'n stadium die pad verloor. Ek onthou nog hoe die Sondagkoerant vertel het van sy sonde en sy val (dominees haal maklik die Rapport se voorblad). Maar Jimmy Swaggert het sy skuld eerlik bely voor die Here en die gemeente en daarna ’n nuwe lewe geleef. Hy het ’n groot impak gemaak tot die dag van sy dood. Ek haal my hoed af vir sulke leiers. Alle leiers (ook Petrus, Dawid, Abraham, elkeen van ons) maak foute, maar ek bewonder leiers wat hulle foute erken, omdraai en regmaak.
Dis nie te laat nie. Draai om, maak reg, en leef met integriteit!
Mooi dag!
Comments
Post a Comment