Alleen...

Alleen...

Dis al aand. Ek was die hele dag in afsprake; gister ook heeldag in afsprake. Daar was lekker afsprake en daar was moeilike afsprake. Nou is dit al aand maar daar wag nog een afspraak. Hy het kanker en die prognose lyk nie goed nie. Ek kan my nie indink hoe dit moet voel as jy die groot k-woord hoor en asof dit nie genoeg is nie: daar is nie veel wat ons vir jou kan doen nie. Ek wonder wat ek sal sê as ek by hulle kom. Eintlik gaan ek nie met woorde nie want ek het nie woorde nie. Teologies-eerlike mense het nie altyd woorde en verduidelikings en troos nie. Die afgelope twee dae was vol moeilike afsprake. Ek sit dikwels alleen in my kantoor en dink en wonder en soms...soms wil ek sommer net huil. Huil vir almal wat siek is, huil vir almal wat ongelukkig is, huil oor die gemeente en oor elke beswaarde lidmaat en sommer huil vir myself ook. Die bediening is 'n alleen wêreld. Twee dae terug het ek verjaar en baie boodskappe gekry - ek is bevoorreg want min mense kry so baie boodskappe. Vir 'n oomblik of ten minste een dag laat dit my glo dat ek saakmaak vir baie mense; dat ek 'n verskil maak in baie mense se lewens. Vir 'n oomblik voel ek nogal trots en dankbaar en selfvoldaan. Maar vandag en gister was weer moeilik. Ek het vinnig weer aarde toe gekom. Daarom sit ek alleen in my kantoor. Alleen. So alleen as wat 'n mens vir niemand kan beskryf nie. As jy na my Facebook kyk sal jy nie dink dat ek alleen kan wees nie, maar ek is bitter alleen. Vir wie vertel 'n mens van jou eie worsteling en vrae, jou gedurige gevoel van nie-goed-genoeg-wees-nie en dat jy nie by alles uitkom nie? Elkeen wil jou nog bietjie meer sien, nog bietjie meer betrek, nog 'n besoekie, nog 'n pannekoek bak, nog 'n vergadering... Nou is hulle almal terug na hulle huise en waarskynlik gesellig saam met hul families. Ek sit alleen in my kantoor en wag vir my laaste afspraak. Dis 'n alleen wêreld - 'n dominee se kantoor. My kind het vir my op skool vertel van Hans du Plessis se boek "Dis 'n flippen stukkende wêreld diè, my ou". Oom Hans weet. Dis flippen stukkend. En flippen alleen...

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...