Bevry...

Bevry...

Alkholisme is nie mooi nie. Dit het 'n groot deel van sy lewe by hom gesteel. Ek weet nie op watter punt hy begin drink het nie. Toe ek hom ontmoet, omtrent 16 jaar gelede, het hy reeds gedrink. Iemand wat baie kennis en ervaring van alkholisme gehad het, het gesê hy is 'n sikliese alkholis. Sy siklusse was gewoonlik tussen 'n maand en drie maande, en as hy begin drink het hy nie maklik opgehou nie - amper soos wat een van die Afrikaanse gedigte gesê het: sewe dae en sewe nagte aaneen... En hy het nie bier gedrink nie...net brandewyn. Hardehout. Dat hy enigsins nog lewe is 'n reeds 'n wonderwerk. Tog het ek nooit gewonder of Hy die Here se kind is nie. Ek het hom eerder gesien as een van God se kinders wat deur 'n moeilike tyd gaan. Hy het in die afgelope jare eers sy vrou verloor en daarna sy seun. Soms dink ek, net vir 'n oomblik, dat ek kan verstaan waarom hy sy seer wil wegdrink - nie dat dit noodwendig help nie. So 'n klompie jare gelede het hy 'n spesiale ontmoeting met die Here beleef - sommer by 'n monument langs die pad. Hy was al in 'n paar inrigtings maar niemand kon hom losmaak van hierdie ewige verslawing nie. Maar daar was 'n klomp manne in die gemeente - hulle het elke week saam met hom Bybel gelees en koffie gedrink en gebid. Hulle het hom nie gelos toe hy deur die hel van drank gegaan het nie. So paar jaar gelede het daardie klompie manne hom laat opneem tydens een van sy siklusse. En daar in die inrigting, het die Here hom losgemaak van dit wat hom soveel jare lank vasgehou het. Dis vandag al sewe of agt jaar, en hy is steeds nugter. Droog. Bevry. Elke keer as ek hom sien, glo ek weer in 'n God wat mense losmaak. Hy is losgemaak. Agter dit alles is daar 'n groepie manne wat hom lief genoeg gehad het om die pad saam met hom te loop. Danksy hulle omgee is hy bevry...

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...