Freaky oom...

Freaky oom...

Die eerste keer wat my seuns hom gesien het, het hulle met groot oë gesê: Pappa, daai oom is freaky. Hy is verstandelik gestrem en bly in 'n huis vir verstandelik-gestemde mense...reg langs ons kerk. Ek moet erken dat die eerste ontmoeting vir my ook freaky was. Hy het 'n rowwe snor en hy loop altyd half vooroor - hy kyk nie op terwyl hy loop nie. En hy hakkel en stotter so erg dat 'n mens moeilik verstaan wat hy sê. Maar mettertyd het ons die freaky oom leer ken. Ons het gereeld gaan kuier en hy is elke Sondag by die kerk. Hy lui die klok en pas die karre op. Elke Sondag moet ek van voor af vir hom beduie wanneer hy die klok moet lui - wanneer die kort wyser op die 9 kom en die lang wyser op 12. Dan is dit 9uur. En hy lui die klok asof dit die belangrikste werk in die hele skepping is. Ja, die freaky oom is eintlik een van die mooiste mense wat ek ken. Hy het die blouste oë wat ek nog ooit gesien het en die sagste persoonlikheid. Hy is elke Sondag op sy pos en het al diep in die hele gemeente se harte ingekruip. Die freaky oom is een van die Here se mooiste en opregste kinders. Ons gemeente sal nie dieselfde wees sonder hom nie.  Hy het vir ons 'n goddelike les kom leer: dat freaky mense dalk baie mooi mense kan wees as jy hulle leer ken. En dat God ook freaky mense aanneem as sy kinders en in freaky mense se harte kom bly. En dat freaky mense soms nader aan die Here is as die gewone mense. En na alles is die kerk ook vir freaky mense bedoel. Een ding weet ek...as ek eendag in die hemel kom sal daar ten minste een freaky oom wees...

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...