Geloofsekerheid....

Geloofsekerheid...


Ek sal vir Dawie nooit vergeet nie. Hy was 17 jaar oud. Hy was een van 280 kinders in die kinderhuis in ons dorp en gemeente. Hy was in 'n spesiale skool in ons dorp en die afgelope jaar deel van ons belydenisklas - dis 'n jaar vir jongmense wat graag belydenis van geloof wil aflê. Dit was 'n goeie jaar en ons het goeie tye saam met die jongmense gehad. Nou het die jaar ten einde geloop en ons moes hoor watter jongmense gereed was vir hierdie groot besluit in hulle lewe. Ekself en twee ouderlinge sit by die tafel. Dawie kom binne en ons vra vir hom die vrae wat ons vir elke jongmens vra. Maar toe kom ons by die groot vraag: Het jy geloofsekerheid? Dawie staar na ons asof hy nie weet waarvan ons praat nie. Ons maak die vraag bietjie makliker: Is jy seker dat jy aan die Here behoort? Dawie se gesig en oë sê vir ons dat die vraag nogsteeds te moeilik is. En toe vra ons die vraag so eenvoudig soos ons kan: Is jy lief vir die Here? Dawie kry 'n glimlag op sy gesig (wat ek nooit sal vergeet nie) en antwoord met 'n duidelike stem: Ja dominee, ek is baie lief vir die Here. Ons was vir 'n oomblik sprakeloos. Dawie was in 'n spesiale skool en het nie ons moeilike geloofstaal verstaan nie, maar sy hart was reg: hy was lief vir die Here. Geloofstaal is 'n wonderlike ding, maar dit kan ook in mense se pad staan. Dis bedoel vir slim mense en dikwels vir TE slim mense. Dawie het my geleer dat 'n verhouding met die Here nie groot woorde nodig het nie. 'N klein woordjie soos liefhê is genoeg. Na alles is die groot gebod nie dat jy geloofsekerheid moet hê nie, maar dat jy die Here moet liefhê met jou hele hart en siel en verstand...en dit het Dawie gedoen - en dit was genoeg...

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...