Herfs...

Herfs...

Ek is 'n somermens. Ek hou van somer en van son. Die hele natuur lyk op sy mooiste in die somer. Groen grasperke, welige blomme en plante, nat grond...dis somer. Ek sou nogal gelukkig kon wees in 'n land waar dit altyd somer is. Maar hoe graag ek ookal wil, dit kan nie vir altyd somer bly nie. Die blare moet geel en oranje en rooi word en doodgaan. Hulle moet afval en weer stof word; terugkeer na die aarde waaruit hulle gegroei het. Binnekort sal al die bome in ons straat kaal wees - kaal gestroop en nakend voor ons en God. Die herfs is daarom wonderlik. As die winter direk na die somer sou kom sou dit baie meer traumaties wees. Herfs is die natuur se eie oorgangsfase om geleidelik alles te verloor. 'n Boom kan net nuwe blare kry as dit al die ou blare verloor het. Die verlies van die ou blare is die eerste stap na nuwe blare. Daarom is herfs 'n tyd om agter te laat, te verloor, te laat gaan. Dis nie net in die planteryk herfs nie. Herfs is deel van die lewe. Iewers moet 'n mens die ou blare verloor om plek te maak vir nuwe blare. Jy moet geleidelik sterf sodat jy weer kan lewe. Die vorige mooi moet plek maak vir 'n nuwe mooi en 'n ander mooi...en dikwels is dit selfs nog mooier. Herfs herinner 'n mens dat niks vir altyd bly nie: nie gesondheid of familie of vriende of geleerdheid of wat ookal nie. Verlies is deel van ons lewens, maar verlies maak ons reg vir 'n nuwe fase met nuwe skoonheid en 'n nuwe kans om te lewe. En na die herfs en die winter wag daar 'n nuwe lente en 'n nuwe somer...

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...