Hulp nodig...

Hulp nodig...

Hy sit voor my. Ek ken hom so goed - beter as wat enige iemand anders in die hele wêreld hom ken. Hy is ook 'n dominee, so in sy middeljare. Hy vertel vir my sy storie. Hy is versigtig, want dominees praat nie maklik met iemand nie. Sy storie begin eintlik ver terug, in sy kinderjare. Hy kom uit 'n goeie huis, maar nie 'n gegoede huis nie. Dit was lekker maar moeilike jare, sê hy. Van kleintyd was sy voorkoms vir hom 'n probleem: hy wens hy het anders gelyk, 'n mooier vel, frisser, mooier tande, meer sportief...sommer net mooier. Ek kan sien hy het 'n selfbeeldprobleem en ek wens ek kon help. Maar dit lê baie diep in o6r baie jare. Hy is gelukkig getroud en het mooi kinders. Hy is gelukkig in sy werk en hy geniet die bediening, of ten minste die grootste gedeelte daarvan. Op die oog af lyk hy vir my na iemand wat eintlik alles het wat 'n mens kan hê. Maar daar is 'n stuk seer in sy oë. Ek probeer uitvind en uitvra maar hy is baie geheimsinning - bang dat iemand sal deurdring tot die seerste seer en sonde in sy lewe. Hy is tranerig as hy ietsie daarvan met my deel. Een van sy beste vriende het hom seergemaak, en hy het dit lankal agter hom gesit. Dis eitlik iets kleins gemeet aan sy eie foute in sy eie lewe. Maar baie jare later, nadat daar nog 'n klompie dinge gebeur hhet, sit hy met 'n agterdog en suspisie oor hierdie vriend...'n agterdog en HEL wat nie in woorde beskryf kan word nie. Hierdie vriend het die simbool geword van alles wat hy nooit kan wees nie: sportief (ten minste in sy jong dae), mooi vel, gewild, almal (veral die vroue) se held. Sy hele lewe het 'n onbewuste kompetisie met hierdie vriend geword. Elke oomblik vrees hy dat hierdie vriend alles wat in sy lewe kosbaar is van hom sal wegvat. Hy hou sy "last seen" op sosiale media dop, probeer agterkom of hy nie dalk in sy persoonlike ruimte inbeweeg nie. Sy oë word vol trane. "Dis nie lekker nie, dis hel!', sê hy. "Ek haat die bliksem!" Ek kan die aggressie in sy gesig en oë sien, en dit maak my bang.  Dis diep en dis seer. Hy dink soms daaraan om sy eie lewe te neem, maar daar is steeds so baie om voor te leef. Dalk moet hy net wegaan en iewers gaan oor begin. Ons sit woordeloos vir minute lank. Hy is 'n dominee, hy ken die Bybel, hy weet van vergewe en hy weet van liefhê. Onvoorwaardelik liefhê. Moeilike en seer liefde. Agape. Ek het nie woorde nie. Voor my sien ek iemand wat desperaat hulp nodig het. Maar met wie praat 'n dominee? Vir wie vertel 'n dominee van sy seer en sy sonde? Ek is ook 'n dominee - ek weet dis nie maklik nie. "Jy sal moet hulp kry" sê ek saggies. Hy sit lank en staar. Sy oë is vol trane as hy stotter: "ek weet ek het hulp nodig..."

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...