In mekaar se oë kyk...

In mekaar se oë kyk...

Dis 4 uur. Sy sal enige oomblik hier wees vir ons afspraak. Ons kom 'n lang pad saam - dalk al 20 jaar? Ek het haar ontmoet as 'n jong dame wat saam met my vrou gewerk het; later het ek hulle getrou; saam gekuier; saam gekerk vir baie jare. Die afgelope tyd is sy kwaad of ongelukkig. Sy het niks gesê nie maar ek ken haar lank: dis nie hoe sy is nie. Ek moes baie mooi vra om haar te sien en uiteindelik gebeur dit vandag. Ek weet self nie mooi wat om te verwag nie. Gesprekke met mense wat kwaad of ongelukkig is, is die moeilikste gesprekke. Dis nie lekker om te hoor dat mense kwaad is vir jou of vir die kerk of vir iemand in die kerk nie. En nou wag ek vir haar. Sy kom in en gaan sit. Haar gesig en haar liggaam wys dat sy nie gekom het om te baklei nie. Die sagtheid in haar oë gee vir my moed. Ons begin gesels oor die kerk en die haakplekke en ons besige lewens en ons gesinne. Ons bely teenoor mekaar dat ons soms oorreageer. Ons gesels oor die pad tot hier en ons planne vir die gemeente vir die toekoms. En iewers in die gesprek sien ek daar is trane in ons altwee se oë. Ons het nie oplossings vir al die uitdagings nie, maar ons hoor mekaar en ons kyk mekaar in die oë. Daar is deernis, omgee en genuine menswees ten spyte van vrae, onsekerheid en nie-antwoorde-hê-nie. En dit gee my moed. Ek onthou dat Piet Naude die verhaaltjie geskryf het van die Rabbi wat vir sy studente gevra het wanneer die nag ophou en die dag begin. Sy antwoord was dat die lig en die nuwe dag gekom het wanneer mense mekaar in die oë kan kyk. Gistermiddag het ons mekaar in die oë gekyk en die nuwe dag het gekom... Daar is hoop vir 'n gemeente waar mense mekaar in die oë kyk...

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...