Sendeling...

Sendeling...


As kind het dit vir my altyd baie lekker gelyk om 'n sendeling te wees. Ek onthou dat daar gereeld sendelinge by ons klein gemeentetjie in Pretoria kom praat het. Gewoonlik het julle uit vêr lande gekom: Japan, Ukraïene, Frankryk, of anders uit voorheen swart gebiede soos Mamelodi, ens. Jy kan my nie kwalik neem dat ek gedink het 'n sendeling werk altyd in 'n ver land of in 'n swart gebied nie. In die afgelope jare het die kerk weer ontdek na ons nie net sendelinge uitstuur na verre lande of swart gebiede toe nie; nee, ons elkeen is 'n sendeling. Dit beteken doodgewoon dat ons ook gestuur is om die boodskap te gaan vertel en te leef. Die groot woord daarvoor is missionêre kerk of missionale kerk. Eintlik beteken dit niks anders nie as dat die Here ons elkeen stuur: na ons werkplek, na die mall, na ons gesinne...letterlik orals waar ons kom. Missionêre kerkwees is nie eintlik iets nuuts nie; daar is eintlik nie 'n ander manier van kerkwees nie. Die heel eerste gemeente was missionêr": sover as wat hulle gegaan het, het die Goeie Nuus van Jesus saam met hulle gegaan. Hulle het nie net gepraat daaroor nie, hulle het dit geleef. Lees maar net die Brief van Diognetus in die 2e eeu. Vandag word daar onder Chistene gevra: wat is hierdie nuwe ding wat die kerk nou weer wil doen? Missionêr? Wie het dit nou weer uitgedink? Iemand sê nou die dag vir my sy stem nie saam met hierdie "nuwe rigting" waarin die kerk nou beweeg nie. My hart is seer as ek dit hoor want iewers langs die pad het ons vergeet wat dit beteken om 'n Christen te wees of 'n Jesus-volger te wees. Dis hartseer om te dink dat ons by 'n punt gekom het waar baie Christene verkies om net 'n lidmaat te wees maar nie 'n sendeling of dissipel nie. Is dit moontlik? Hoe kry jy dit reg om 'n lidmaat te lei om 'n dissipel of sendeling te word? Ek weet nie. Na 23 jaar in die bediening weet ek steeds nie. Maar ek is dankbaar vir 'n groot groep lidmate wat dit verstaan en dit reeds leef. En ek sal geduldig bly bid en hoop dat daar 'n dag sal kom waar elke lidmaat homself of haarself sal sien as sendeling of gestuurde. Eers dan sal ons "Missionêre kerkwees" nie meer sien as 'n nuwe gier of rigting in die kerk nie. En een ding is seker, dan sal die wêreld om ons verander...


Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...