Om te laat gaan...

Om te laat gaan...

Hy is net drie jaartjies oud. Ons stap vir die eerste keer deur die kleuterskool se hek. Ek maak seker hy is in die regte klassie en dat hy tevrede is...of ten minste tevrede lyk. Dan stap ek weer deur die hek na buite - alleen. Ek voel soos 'n boef om hom alleen te los, maar in my hart weet ek ek moet dit doen. Die Here weet - dis nie maklik om te laat gaan nie. Sal hy aanpas, gelukkig wees, maatjies hê en van sy juffrou hou? Ek weet nie - tyd sal leer. Ek sit vir 'n oomblik in die motor, my oë blink van die trane. "Here, pas hom op", bid ek voor ek ry. Pouse ry ek weer verby die kleuterskool en kyk of ek hom sien en of hy gelukkig lyk. Dit bly moeilik om te laat gaan. Eintlik is die hele lewe 'n voortdurende laat-gaan. Vandag is hulle al in hulle vroeg twintigs, en ek moet weer 'n keer leer om te laat gaan. Die Here weet dis nou nog moeiliker as daardie dag by die kleuterskool. In die volgende paar jaar gaan ons dikwels moet laat gaan. Maar dis nie net hulle nie. Ek sien hoe my ouers en skoonouers ouer word en ek weet daar gaan 'n dag kom wat ons sal moet laat gaan. Ek kan nie help om te dink aan een van die stukkies wat Max Lucado geskryf het nie. Hy vertel hoedat sy pa kleintyd vir hom gesê het dat hy maar kan spring - hy sal veilig wees. Jare later staan hy by sy pa se sterfbed en kyk in daardie selfde oë wat so dikwels vir hom gesê het: jy kan maar spring, jy sal veilig wees, en hy sê vir sy sterwende pa: jy kan maar spring...dis veilig. Dis nie lekker om te laat gaan nie, maar dis deel van die lewe. En in die jare wat voorlê sal ons nog baie keer moet laat gaan: ouers, kinders, vriende, gesondheid, drome, kollegas... Maar dis meer as net laat gaan. Ons laat hulle nie alleen gaan nie. Ons bid steeds dieselfde gebedjie as daardie dag voor die kleuterskool: Here, pas hom op. Ons stuur Iemand saam. Hulle kan dus maar spring, hulle sal veilig wees...

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...