Ontnugter...

Ontnugter...

Dit was 'n gewone oggend soos elke ander oggend, omtrent 35 jaar gelede. Ons het ontbyt geëet en klaargemaak vir skool; ek was in sewe of graad agt (dink ek). Meteens het ons die geluid gehoor van motorremme en 'n dowwe plofgeluid. Ons het by die voordeur uitgestorm...straat toe. My hondjie (Tinkie) het leweloos in die straat gelê. Dis moeilik om te beskryf wat ek as jong seun op daardie oomblik beleef het. Ek het hom saggies opgetel en in die huis ingestorm en vir Tinkie op 'n kombersie in die badkamer neergelê. Ek het die vorige aand 'n gedeelte in die Bybel gelees waar Jesus die mense laat weggaan het en die deur toegemaak het voordat hy die dogtertjie opgewek het. Dit was nog vars in my geheue en ek het dit kinderlik naïef geglo. Ek het die badkamerdeur toegemaak en vir Tinkie gebid...en verwag dat hy enige oomblik sou opstaan. Elke keer het ek weer verder gebid en weer gretig gekyk. Tinkie was steeds leweloos. Later moes ek skool toe gaan. Dit was eindelose lang dag van baie bid...en solank dankie sê vir die wonderwerk wat die Here gaan doen. Ek het vas geglo dat Tinkie sou lewe as ek by die huis kom. Ek kan nie beskryf hoe groot my teleurstelling was toe ek Tinkie se lewelose lyfie in die badkamer sien lê nie. Ek was ontnugter deur die God in wie ek as kind so vas geglo het. Ek het met alles in my geglo Hy sal my hondjie lewendig maak...maar Hy het nie. Al die verse van "vra en vir julle sal gegee word" en "alles is moontlik vir die wat glo" was skielik so onverstaanbaar en leeg. Ek was ontnugter deur God. My kinderlike naïewe geloof het verander in 'n ontnugterde geloof. Vir die eerste keer in my lewe het ek besef God is anders as wat ek gedink en geleer het. In die 35 jaar na daardie dag het ek dikwels hierdie ontnugtering beleef: by hospitaalbeddens, by oop grafte, in kinderhuise en ouetehuise, maar ook in my eie huis. Dit was nie soseer 'n ontnugtering met God nie, maar 'n ontnugtering met my eie klein prentjie van God...die God wat alles doen wat ons vra en soos ons dit vra. Die voorspelbare, instemmende God het plek gemaak vir 'n groter God: onvoorspelbaar, soewerein en anders. Of soos Karel Barth gesê het: gans anders. Soos Job moes ek leer dat God onverstaanbaar groot is; dat Sy weë nie ons weë is nie en dat Sy gedagtes nie ons gedagtes is nie. My ontugtering met my eie prentjie van God was 'n klein treetjie op die pad na 'n groter prentjie van God. Ontnugtering is deel van geloof en deel van groei....

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...