Pietie...
Pietie...
Hy was hierdie week 56 jaar oud. Hy is gestemd gebore en sy gestremdheid het in 56 jaar net erger en erger geword. Hy kan niks vir homself doen nie. Sy hele lyf is inmekaar getrek en hy lê dag en nag op sy linkersy op sy bed. Sy oë staar na elkeen van ons elke keer wanneer ons voor sy bed sit. Dis asof hy iets wil vertel maar dit nie kan vertel nie. Dit moet veskriklik wees om nie te kan praat nie. Voor sy bed lê sy selfoon waarop hy self nog nooit geskryf of gepraat het nie, maar dis syne. Op die rakkie voor die bed staan karretjies: modelkarre en sommer net karretjies. Twee van elkeen, want hy wil altyd twee van dieselfdes hê. In die sitkamer is ook 'n rak met karretjies: twee van elkeen. Twee selfone, twee skeermesse, twee van elke soort kar. Sy lyf is maer en krom, maar sy oë vertel dat sy brein helder is. Eintlik pas sy brein en sy liggaam nie bymekaar nie. Hy laat my so baie wonder oor God: waarom die Here sulke lyding toelaat. Ek het nie antwoorde nie, maar genadiglik glo ek dat die antwoord eerder in die natuurlike geboorteproses en gene en gebroke wêreld lê as in doelbewuste besluit van God. Ek sou so 'n God moeilik kon aanbid. Maar die liefdevolle God is by Pietie. Ek leer self ook nog vir God ken wanneer ek by Pietie is. God is anders as wat ek gedink het: nog meer onverstaanbaar maar ook nog meer liefdevol. Pietie praat nie in woorde oor God nie; sy menswees vertel van aanvaarding en optimisme en tevredenheid. Maar agter Pietie se verhaal is daar 'n dieper verhaal - die vrou agter elke man. Pietie sou nooit 56 jaar oud kon word as dit nie vir sy ma was nie. Vir 56 jaar versorg sy hom, voer hom, sit vir hom doeke aan, bad hom, draai hom om en meeste van alles...is sy lief vir hom. Sy wonder en vra baie keer waarom die Here nie eerder vir Pietie "kom haal" nie. Dis nie net sy wat nie weet nie; ek weet ook nie. Maar wat ek wel weet is dat sy alles vir Pietie doen wat 'n ma vir 'n kind kan doen. Sy gee haar lewe vir hom. In haar liefdevolle versorging sien ek die Here se liefde vir Pietie en hoe Hy elke dag sorg vir Pietie...en vir my. Eendag gaan die Here wel vir Pietie "kom haal", en ek sal graag daardie dag ook daar wil wees as hierdie stukkende liggaam heelgemaak word. Kan jy dink hoe dit moet wees om vir die eerste keer te loop, te vat, aan te trek, self te eet. Ek sou graag daardie dag saam met Pietie se ma en pa daar wou wees om te beleef wat nuutword regtig beteken...
Comments
Post a Comment