Siek mense...

Siek mense...


Die provinsiale hospitaal in ons dorp (stad) is vandag verlate. Die gangdeure is gesluit; die apteek se deure en vensters is toe; die stoele waar al die pasiënte elke dag sit en wag is leeg. Die kiosk se roldeur is toegemaak en dit lyk amper soos 'n spookhospitaal. In die voorportaal staan 'n paar mense rond - nie seker of hulle moet bly of ook maar moet huistoe gaan nie. 'n Klein groepie mense dans in die parkeerterrein van die hospitaal. Hulle is blykbaar deel van een van die vakbonde en beskryf hulleself as die voorlopers van die optog wat oppad is. Die groot oomblik is blykbaar vanmiddag 15:00. More arriveer Julius Malema met sy groot luukse motor en groot gevolg in Ikageng om te praat oor die "slaughterhouses" (dis nou die hospitale) wat moet toemaak. Gister is daar selfs 'n baie siek pasiënt in 'n buurdorp oorlede omdat die personeel hom nie mag help nie. Laas nag is winkels in Ikageng geplunder en leeggedra. Agter dit alles sit daar ongelukkigheid oor die minimumloon; ongelukkigheid oor die premier en ongelukkigheid oor hospitale. Niemand is eers meer seker waaroor die ongelukkigheid presies gaan nie. Ek stap deur die leë hospitaal en sien die paar mense wat verskrik rondstaan. Ek dink aan al die mense wat vandag op hierdie stoele sou sit en wag vir konsultasies en medisyne. My hart gaan uit na al die mense wat hulle lasste geld gebruik het om vanoggend met 'n taxi hierheen te kom...net om nou weer geld te leen om met leë hande en siek huistoe te gaan. Ek ervaar soveel emosies hier waar ek nou staan: ek voel so jammer vir die gewone, arm en siek mense - hulle wat nie kan kies (soos Julius) na watter hospitaal hulle wil gaan nie. Maar ek is ook kwaad en vir 'n oomblik glo ek dat God saam met my kwaad is met 'n heilige woede oor die onreg wat teenoor hierdie mense gepleeg word. God het steeds 'n groot hart vir die armes, en Hy haat die manier wat die voormalige armes (nou die ryk elite) met mense werk. My hart is seer...om te dink dat ons by so 'n punt gekom het in ons land waar ons nie eers meer behandeling en medisyne gun vir siek mense nie. Dalk is die siek mense nie die mense wat met leë hande huistoe is nie. Dalk is die siek mense die wat met hulle groot blink motors mense kom oorhaal om nie meer siekes raak te sien nie. Dit is siek. Siek leiers. Siek politici. Ek wil soos Petrus my swaard uitruk en veg - ek dink baie daaraan. Dalk gaan ons eendag skuldig wees voor die Here dat ons nie geveg het vir die regte van die mense wat met leë hande huistoe is nie. Ek bid vir wysheid om te weet hoe ek moet veg...watter manier van veg vir die Here aanvaarbaar sal wees. Een ding weet ek: as ons niks gaan doen nie, is ons net deel van die siek mense van hierdie wêreld...

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...