Sondagoggend...

Sondagoggend...

Dis 'n gewone Sondagoggend in April. Ek is gewoonlik vroeg (so 6 uur) al by die kerk - ek hou van die Sondag-oggend alleenwees. Ek maak vir myself 'n koffie en doen my laaste voorbereidings. Dis vir my 'n kosbare tyd - mense wat laat kerk toe kom mis baie. My pa het altyd vroeg kerk toe gegaan. Ek het altyd gewonder waarom ons so vroeg daar moet wees en so lank voor die tyd al moet sit. Vandag verstaan ek dit baie beter: mens moet stilword, nadink en sommer net by die Here wees - introspeksie en retrospeksie - binnetoe kyk en terugkyk. Mettertyd kom die mense: eers die koster, dan die musiekgroep, die diakens, die kinderkerkleiers en die lidmate. En genadiglik ook besoekers. Kerkwerk is eintlik maar net mensewerk. Die woord liturgie beteken die werk van die mense. Gewone mense, sondige mense. Dit bly vir my elke Sondag weer 'n wonderwerk dat daar so baie mense is. Uit al die plekke waar hulle nou kon wees (in die mall, langs die viswaters, op die gholfbaan, ens) is hulle hier. Niemand kom vandag meer net om gesien te word nie - daardie tyd is verby. Ek wonder altyd waarom is hulle hier: dalk vir die boodskap? Of die sang? Of dalk vir die saamwees? Ek vermoed dat hulle, net soos ekself, 'n behoefte het aan al hierdie dinge: boodskap, sang, saamwees, koffie, ens. Maar baie dieper as dit vermoed ek het ons almal 'n behoefte aan God: Sy teenwoordigheid, Sy genade, Sy mense en uiteindelik aan Homself. En keer op keer gebeur die wonderwerk dat Hyself ons aanraak en ons verras met Sy teenwoordigheid. Iewers tussen die koffie en sing en saamwees gebeur daar iets met ons. Dis die wonder van Sondagoggend....

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...