Bediening...

Bediening...

Here, toe ek klein was het ek gewonder hoekom U so baie keer "weggevlug" het vir die mense. Ek lees 'n paar keer dat U oor die meer gevaar het om net 'n bietjie alleen te wees. As klein seuntjie het ek gedink dat dit nie mooi is nie...ek sal dit nooit doen nie. En hier sit ek nou, Here. Dis baie jare later en ek vlug ook nou vir die mense. In my dorp is daar nie regtig 'n groot genoeg meer (soos die meer van Galilea) waar mens kan wegkruip nie. Of 'n berg waar daar nog nie selfoontorings is nie. Selfs die bo-kamer is nie meer alleen nie. En hier sit ek nou en wegkruip en praat met U. Hoe het U dit reggekry om nie kwaad te word vir die mense wat vir U aan die anderkant van die meer ingewag het nie? Het U nie ook soms kwaad en opstandig en moedeloos geword nie? Moes U ook pinkster hou en pannekoek bak en 'n vleisprojek reël? Wou al die mense daardie tyd ook hê dat U hulle een keer elke jaar besoek? Here, ek weet ek kan dit vir U sê want U was ook in die bediening en U moes ook vlug: dis nie elke dag lekker om in die bediening te wees nie - selfs al doen ek dit eintlik vir U. Mense is nogal lelik met 'n mens...natuurlik op 'n mooi manier. Here, dis vir my lekker om vir U te werk - U ken my en U weet dit. En U weet ek gee alles wat ek kan. Die gemeente voel ek kom nie genoeg by hulle uit nie; my kinders voel ek is nie genoeg by die huis nie; die universiteit voel ek is nie betrokke genoeg by die studente se studies nie; die buurdominee voel ek moet meer van die interkerklike byeenkomste bywoon. Here, vergewe my as ek dit sê, maar ek wil nie vir altyd hierdie werk doen nie. Dalk kan U my eendag op 'n ander plekkie gebruik? Dalk kan ek ietsie kleiners vir U doen maar so bietjie meer van die lewe hê? Here, U het baie mense wat vir U werk, en U het baie soorte werkies wat gedoen moet word. Ek sal graag eendag vir U 'n ander werkie wil doen. Dalk kan ek 'n klein winkeltjie hê of rekenaars regmaak of kosmaak? Maar terwyl ek nog hierdie werk vir U doen, help my om nie vies te wees vir die mense wat anderkant die meer my inwag nie. Help my om ook nou met deernis na hulle te kyk en lief te hê soos wat U liefgehad het. Dankie dat ek met U kan praat en dat U verstaan...

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...