Hoop...of hoop nie?
Hoop...of hoop nie?
Sy is 84 jaar oud. Sy sit in die gange van die provinsiale hospitaal en wag vir behandeling. Sy moes vanoggend 6 uur al buite in die koue staan om 'n taxi te haal om hier te kom. Sy het nie eintlik 'n ander keuse nie. Die afgelope weke was sy dikwels by die hospitaal maar daar was nie medisyne om vir die pasiënte te gee nie. Laas week het sy twee maal 'n taxi gehaal om hospitaal toe te kom, maar sy moes met leë hande huistoe gaan omdat daar 'n staking by die hospitaal is. Daarom het sy vanoggend weer gekom. Dis nog vroeg en baie koud buite. Maar sy HOOP dat sy vandag haar medikasie kan kry...sy kan nie regtig sonder dit lewe nie.Die stukkende wêreld om ons is vol mense wat HOOP: hoop om ook eendag 'n huis of eie blyplek te hê; hoop om medikasie te kry; hoop om 'n werk te kry; hoop om meer te wees as net een van die naamlose skare. My wêreld is anders. Ek leef eintlik in 'n baie gemaklike wêreld waar my salaris outomaties aan die einde van die maand inbetaal word; more se kos is reeds in die kaste en die deposito vir Desember se vakansie is reeds betaal. Eintlik weet ek nie wat HOOP is nie; al wat ek ken is HOOP NIE. Ek HOOP NIE iemand breek in by my en vat dit wat ek reeds het nie; ek HOOP NIE ek verloor my werk nie: en HOOP NIE ek word siek of ongeskik vir werk nie.
Daar is duidelik twee wêrelde sommer hier by ons: in die een wêreld HOOP mense op dit wat nog nie daar is. In die ander wêreld het mense reeds alles en HOOP NIE om dit te verloor nie. Ek kan nie help om te dink aan die Hebreërskrywer wat skryf dat HOOP beteken om uit te sien na iets wat jy nog nie kan sien nie; om te trek na 'n land wat jy nog nooit gesien het nie, maar tog te glo dat dit daar is en dat die Here my daar sal bring. Twee wêrelde: die hoop-mense en die hoop-nie-mense. As hoop-nie-mens kan ek my moeilik indink in die skoene van 'n hoop-mens. Maar vandag, op hierdie spesifieke dag, wil ek vir 'n oomblik hoop saam met die mense wat hoop: hoop dat daar vandag behandeling en medisyne sal wees vir siek mense; hoop dat almal wat nie werk het nie kan werk kry; hoop dat daar 'n ordentlike dak oor elke mense kan wees; hoop dat nie een kind vanaand honger sal gaan slaap nie... Saam met die Hebreërskrywe hoop ek vandag vir dit wat nog nie is nie maar eendag kan wees. En saam met Paulus sê ek: En nou bly geloof, HOOP, en liefde...
Comments
Post a Comment