Job: maklike antwoorde...
Job: maklike antwoorde...
Job 42:7
Nadat Hy met Job gepraat het, het die Here vir
Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle
het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie.
Job se
verhaal is nie maklik om te verstaan nie. Daar is ‘n komp moeilike dinge in die
boek Job. Waarom laat die Here die Satan
toe om Job so seer te maak? Hoe kan die Here so ‘n gesprek en onderhandeling
met die Satan hê? Dis moeilike vrae, en laat christene en teoloë deur die eeue
nog kopkrap. Job se vriende het nie geweet wat agter die skerms gebeur nie (ons
is gelukkig om dit wel te weet omdat dit vir ons neergeskryf is). Al wat hulle
gesien het is dat daar skielik klomp slegte goed met hulle vriend Job gebeur. Binne
hulle verwysingsraamwerk kon daar net een oorsaak wees: Job moes iets veskrikliks
verkeerd gedoen het. Hulle raad was eenvoudig: bely jou sonde en dan sal die
Here ophou om jou te straf. Dit klink
baie mooi, maar dis nie waar nie, want ons weet vandag dat dit nie die rede is
waarom al hierdie slegte dinge met Job gebeur het nie. Dit het niks te doen gehad
met enige sonde wat Job gedoen het nie.
Mense is
baie lief daarvoor om maklike antwoorde te gee. Dikwels klink hierdie antwoorde
baie vroom en godsdienstig, maar dis doodgewoon nie die regte antwoorde nie. Soms maak hierdie antwoorde baie seer. Die
ergste van alles is dat dit dikwels ‘n verwronge prentjie skets van wie God
regtig is. Sonder dat mense dit bedoel, sê hulle iets oor God wat doodgewoon
nie waar is nie. Ons moet leer om nie alles te glo wat mense in die Naam van
die Here sê nie. Ons moet self ook versigtig wees om nie antwoorde te gee wat
doodgewoon nie waar is nie, hoe mooi dit ookal mag klink.
Here, keer
ons om nie vir mense maklike antwoorde te gee nie. Help ons om nie dinge oor U
te sê wat nie waar is nie. Help ons ook om nie alles te glo wat ander mense oor
U sê nie. Amen
- Geskryf vir die manne-dagboek: Manne van die Woord (2018)
Comments
Post a Comment