Job: onverstaanbaar...

Job: onverstaanbaar...


Job 42:3
Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie.

Die boek Job vertel die verhaal van ‘n man wat naby die Here geleef het, maar steeds alles verloor het. Vir Job en sy vriende het dit nie sin gemaak nie: hoe kan ‘n mens alles verloor as jy naby die Here leef. Job se vriende het die skuld voor Job se deur kom lê: hy moes iewers iets verkeerd gedoen het waaroor hy nou gestraf word. Job het self ook nie ‘n antwoord gehad nie, behalwe dat hy vasgehou het daaraan dat dit nie gebeur as gevolg van sy sonde nie. Wanneer die Here uiteindelik met Job praat, neem Hy as’t ware vir Job wildtuin toe. Hy wys vir hom al die diere en vra vir Job of Hy weet hoe alles gemaak is. Dis asof die Here vir Job wil sê: as jy nie eers die diereryk vertaan nie, hoe sal jy ooit die dade en optrede van die Here verstaan? As jy die sigbare dinge nie kan verstaan nie, hoe sal jy die onsigbare dinge verstaan? Eintlik gaan die boek Job gewoon oor God se soewereiniteit: Hy kan doen wat Hy wil.
Dikwels in ons eie lewens kom ons ook by ‘n punt waar ons soos die Jesaja (Jes 55) moet bely dat die Here se paaie nie ons paaie is nie. Sy gedagtes is hoër as ons gedagtes; ons denke en verstand is te klein om Sy besluite te verstaan.  Hy is doodgewoon te groot vir ons. Ongeag ons gevorderde kennis en tegnologie het ons nie die kapasiteit om Hom te verstaan en te voorspel nie.  Hy is soewerein – Hy kan doen wat Hy wil. Tog is ons nie uitgelewer aan ‘n genadelose God nie; Sy liefde vir ons en vir Sy skepping laat ons veilig voel.

Here, U is oneindig groot. Ons is baie klein. Ons verstaan nie alles wat U doen en toelaat nie. Help ons om te onthou hoe groot U is en hoe klein ons is. Dankie dat ons veilig is by U. Amen


- Geskryf vir die manne-dagboek: Manne van die Woord (2018)

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...