Job: tweede kans...
Job: tweede kans...
Job 42:10
Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die
Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy
gehad het.
Die verhaal
van Job eindig nie by ‘n man wat alles verloor nie. Nadat die Here vir Job
herinner aan wie Hy is, gee Hy vir Job twee keer soveel as wat hy gehad het.
Hierdie deel van die verhaal is nie sonder vrae nie, maar dis belangrik om raak
te sien dat Job aan die einde beter daaraan toe is as aan die begin. Die
verhaal kon opgehou het by Job se verliese en sy gesprek met die Here, maar dit
doen nie. Job 42 is die hoogtepunt van die verhaal. Job het weer beeste, vee en
kamele. Hy het weer sewe seuns en drie dogters (soos aan die begin). Sy dogters
was die mooiste vroue in die land. Die Here het hom baie voorspoedig gemaak. Hy
het lank gelewe en nog sy agterkleinkinders gesien. Die boek Job sluit af deur
te sê dat Job ‘n vol lewe gehad het.
Daar is baie
mense wat iewers in hulle lewe alles verloor wat hulle gehad het. Die boek Job
leer vir ons dat die Here ook ‘n tweede fase in ‘n mens se lewe kan laat
aanbreek, en dat jy in hierdie fase selfs meer kan hê as in die eerste fase. Die
Bybel beskryf die Here as ‘n God wat mense se lot verander. Ons verhale hou
genadiglik nie op waar ons alles verloor nie. Hy is ‘n God van tweede kanse; ‘n
God van weer begin en ‘n God van HOOP!
Here,
dankie dat ons laagtepunte nie die einde is nie. Baie dankie dat U vir mense ‘n
tweede kans gee. Maak ook my lewe vol soos U Job se lewe volgemaak het. Amen
- Geskryf vir die manne-dagboek: Manne van die Woord (2018)
Comments
Post a Comment