Pinkster...

Pinkster...

Vandag is pinkstersondag. 'n Bietjie meer as 2000 jaar gelede is die Heilige Gees op hierdie dag uitgestort...eens en vir altyd. God het op 'n ander manier by ons kom bly. Daardie dag het daar groot dinge in Jerusalem gebeur: wind, vuurtonge, skuddings. Dis egter alles net natuurverskynsels en gebeur ook wanneer die Gees nie uitgestort word nie. Die grootste ding wat daardie dag gebeur het is dat God nie BY ons kom bly het soos toe Jesus gebore is nie, maar IN ons kom bly het. Hy het nie weer Sy tent tussen ons tente kom opslaan nie maar in ons eie klein tentjies kom bly. Elke klein tentjie waar mense woon het die potensiaal om God se huis te wees. Tente word tabernakels en huise word tempels. Gewone mense word kinders en gewone gesinne word kerk. Ons ken eintlik nie 'n ander tyd as pinkstertyd nie. Ons was nog nooit sonder God nie en ons was nog nooit alleen in ons huise nie. En tog, vir 'n oomblik mis ek die wind, skuddings en vuurtonge van die eerste kerkie. Want in my eie klein wêreld verstaan die verskillende volke mekaar steeds nie; in my eie klein wêreld word daar baie selde gepraat oor die groot dinge wat God gedoen het; in my eie klein wêreld is spreek in tale vervang met 'n goedkoop, aangeleerde namaaksel. In my eie klein wêreld kom daar nie daagliks mense by die gemeente nie maar gaan daar daagliks mense weg van die gemeente. Die Goeie Nuus het die ou nuus geword en die opgewonde volgers het plek gemaak vir passiewe omstanders. Wie weet, eendag verras die Here ons dalk weer 'n keer soos Hy die mense in Jerusalem verras het...stomgeslaan, verward, verstom, vervuld....

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...