Vadersdag...
Vadersdag
Dis vadersdag. Ek weet nie mooi waar kom die dag en die tradisie vandaan nie, maar ek het grootgeword in 'n huis waar my ouers vadersdag en moedersdag hoog geag het. Dit was 'n dag waarop ons altyd 'n spesiale ontbyt gemaak het en saam geëet het - ons het nie normaalweg saam ontbyt geëet nie. En dit was 'n dankie-sê dag. Dit was nie moeilik nie want ek het twee wonderlike ouers (gehad). My pa was vir my baie naby aan die hart. 'n Kwaai pa maar 'n goeie pa. Vrygewig...hy sou alles weggee wat hy het. Hy kon enige iets regmaak; ek was sy helper en regterhand. Vandag kan ek ook amper enige iets regmaak - danksy my pa. Hy was 'n groot sterk man totdat die siekte hom afgebreek het tot 'n maer en weerlose man. Hy het 'n hart van goud gehad: spelerig en lief vir poetse-bak. Ek eer vandag sy nagedagtenis, en na 22 jaar kry ek steeds 'n traan in die oog as ek aan hom dink. Nou is ek self 'n pa van twee groot seuns en 'n dogter. Ek wens my pa kon dit sien. Ek wens hy kon my kinders sien en ken - hulle sou baie lief wees vir hom. Ek is in baie opsigte soos my pa: mooi eienskappe maar ook vol foute. Groter foute as die foute waarvoor ek hom kwalik geneem het. 'n Doodgewone pa. Vandag is vadersdag. Vanoggend in die kerk was ek baie bewoë: vadersdag en moedersdag maak my bewoë. Ek huil oor al die mammas wat alleen daar sit; al die kinders wat sonder 'n pa grootword of in 'n ander huis as hulle pa grootword; ek huil oor my eie pa wat nie meer hier is nie en ek huil oor my eie tekorte. Maar meeste van alles huil ek omdat ek dankbaar is vir pa, my skoonpa en my kinders. My seuns sê vir my dankie vir die "wonderlike pa wat ek is". Ek is dankbaar, trots maar ook skaam. Baie skaam. Ek wens ek kon dit beter doen; sekere oomblikke selfs oor doen. Wens ek kon nog meer daar wees vir hulle; meer aandagtig luister as hulle vertel; meer speel; minder dominee wees en meer pa wees, meer geduldig... Dis groot genade as jou seuns jou eer en bewonder; dis onverdient. Ek wens ek kan vir hulle vertel dat my grootste rykdom in die lewe juis hulle is; dat my lekkerste "werk" pa-wees is; dat ek op vadersdag wens ek kan nog lank hulle pa wees: as dit kan dat dit nooit sal ophou nie. Ek dink vandag aan al die groot pa's van die verlede: Noag, Moses, Abraham, Dawid, Petrus...en my eie pa. Hulle was manne soos ek: groot hoogtepunte maar ook gruwelike laagtepunte. Gewone manne. Begenadigde manne, net soos ek aangeneem deur die groot Vader. Sy kinders. Sy seuns. En op hierdie vadersdag sê ek saam met my seuns dankie vir 'n wonderlike Vader. Saam met Dozi se lied sê ek dankie dat my God ook hulle God is...

Comments
Post a Comment