Sjoe...

Sjoe...

Ek sit saam met my vriend Pieter op die stoep van hulle plaashuis buite Tarkastad. Hy boer met bokke en skape op plase wat al geslagte lank in die familie is. Ons het vanoggend saam met hom gaan lekke uitsit vir die bokke en die skape. Die veld is droog en leeg. Dis een van die droogste tye in sy boerdery. Die plaasdamme is nou almal leeg. As dit nie vir die enkele windpompe en sonpompe was nie, was alles al dood. Sy vrou sê dat die droogte aan hulle vat en ek kan dit sien. Vanmiddag het die wolke mooi begin saamtrek en nou begin dit reën. Dit reën nie op al die plase in die omgewing nie maar vir die oomblik reën dit hier. Ek sit saam met hom op die stoep en kyk vir die reën. Ons praat nie eintlik nie; sit net en kyk. In 'n oomblik se tyd lyk die gras bietjie groener en die veld lyk of dit weer kan lewe. Ek wil my verbeel dat die voëls ook anders gesing het. Ek breek die stilte met "ai, die reën is wonderlik"! My boer-vriend staar net voor hom uit en sê "sjoe"! 'n Rukkie later sê hy weer "sjoe"! En dan 'n derde "sjoe"! Hy is nie 'n man van baie woorde nie. Ek besef skielik dat dit een van die kortste gebede is wat ek ooit gehoor het, maar agter hierdie sjoe-gebed sit groot dankbaarheid en verwondering...dalk ook 'n groot smeekgebed. Ek kan nie help om te dink aan 'n klomp groot oomblikke in my eie lewe nie: die geboorte van ons kinders, my beroep na Potchefstroom, ons eerste eie huis, 'n "terloopse" meevaller, ja, so baie groot oomblikke waarin 'n mens net die sjoe-gebed bid. Min woorde maar groot bewondering. Ek onthou my eerste besoek aan God's window, my eerste kamp in die Drakensberg, Kaappunt, Namakwaland... Dit was alles sjoe-oomblikke. Van gister af reën dit aanmekaar in Potchesftroom na 'n baie droë seisoen. Saam met my boer-vriend wil ek vandag sommer net sê "sjoe!" en ek weet dat die Here verstaan en glimlag...

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...