Hallo pappa...

Hallo pappa

Dis al 23 jaar dat pappa nie meer hier is nie. Daar het so baie dinge gebeur vandat pappa weg is. Oupa is oorlede, en daarna ook Boetie, tannie Bettie, tannie Es, oom Lourens, oom Japie se seun, Lynette, Coenie, Izak... Tersia se oupa en ouma is ook intussen oorlede. Mamma het baie verswak en bly die laaste paar jare by sussie-hulle. Sy sukkel om te loop maar verder gaan dit eintlik nog goed. Tersia se ma-hulle word ook ouer en het nou hulle huis verkoop om Potch toe te trek. Ek dink so baie terug aan die tyd toe pappa nog by ons was. Ons almal was jonk en gesond en dit het goed gegaan met almal. Die laaste jare het so baie dinge verander. Ek en Tersia bly nogsteeds in Potchefstroom en die Here was goed vir ons - ek verdien dit nie. Ek verstaan vandag meer as ooit wat genade is. Dis genade dat dit goedgaan met ons. Onthou pappa nog ons klein seuntjie wat kort voor pappa se dood gebore is? Hy sing hierdie maand in die Brooklynteater. Ek kan net dink hoe trots sou pappa wees - pappa was altyd so trots op ons. 'n Jaar en 'n half nadat pappa dood is het ons nog 'n seuntjie (Emile) gekry. Hy is ook al 22 en maak binnekort klaar as apteker. Pappa sou trots wees op hom - hy is ook slim soos pappa. Soveel genade wat ons nie verdien nie. Ek dink so baie aan daai dag toe pappa in my kamer ingestap het en vir my jammer gese het oor iets wat pappa gedoen het. Dit moes baie moed gevat het. Ek verstaan vandag soveel beter omdat ek self soveel foute gemaak het...wens ek kon vir pappa vertel... Ai pappa, soms wens ek pappa was nog hier en ons was weer klein. Ons was nie ryk nie maar ons het eintlik alles gehad. Ons het veilig gevoel en die lewe het voor ons gele. Daardie tyd het ek geglo dat die dinge wat met ander mense gebeur nie met ons ook sal gebeur nie, maar dit het. Dalk is dit beter dat pappa nie meer hier is nie want hierdie goed sou pappa onderkry. Dis mos nie lekker as jy jou kinders sien seerkry nie? Ag pappa, ek weet nie wat maak dat ek vanaand hierdie briefie skryf nie...seker maar verlange: verlange na pappa en verlange na 'n tyd wat alles so anders was. Voor ek groet: ek is spyt pappa het nooit vir my drukkies gegee nie - ek mis dit vandag nog. Ek het dit al orals gaan soek maar dis nie dieselfde nie. Ek is bly dat ek my seuns kan druk - weet pappa hoe wonderlik is dit. Ek het een aand gedroom dat ek vir pappa weer sien en dat pappa vir my 'n druk gee - dit was een van die hoogtepunte in my lewe. Ek wens pappa was vanaand hier om my vir 'n oomblik vas te hou en sommer net te sê alles sal ok wees...

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...