Getoets vir Covid-19

Positief getoets vir Covid-19

Dit het alles laas Sondagaand begin. Ek en Tersia gaan kuier by 'n tannie en haar gestremde seun. Covid-19 het hulle afgesny van almal om hulle en hulle is so eensaam soos 'n pelikaan in 'n woestyn. Tydens ons kuiertjie merk ons op dat haar seun nie goed lyk nie: hy het koors en hy eet al vir dae nie. Ons moedig haar aan om die volgende dag die dokter te bel om te kom kyk. Ons haal ons maskers af en drink koeldrank en bid vir hulle. Woensdag, drie dae later, ry ek en Corniël Pretoria toe vir 'n afspraak by 'n dokter. Iewers tussen Krugersdorp en Pretoria bel die tannie my. Die toetsuitslae het gekom en haar seun is positief getoets vir Covid-19; sy is nie getoets nie. Op daardie oomblik voel dit soos 'n doodsvonnis oor hulle en oor my...en dalk my gesin. In my hart is ek kwaad vir haar: sy dra nooit 'n masker nie en het nie vir ons gesê haar seun is siek nie. En ek is skielik so bitter spyt dat ek my masker afgehaal het. Ek het myself en almal om my blootgestel aan 'n gevaarlike virus. Ons ry verslae verder. My seun is kwaad vir my dat ons so dom ding gedoen het. Hy kanselleer al sy afsprake en ek kanselleer myne - ook die afspraak by die dokter - sy sien nie mense wat in kontak was met Covid-19 mense nie, en ek kan dit goed verstaan. Woensdagaand slaap ons amper nie. Ons redeneer die dinge uit en probeer verstaan en elke keer wys 'n klomp vingers terug na onsself: ons het 'n dom ding gedoen, maar dis water onder die brug deur. Daardie aand kry ek meer nagmerries as ooit vantevore: ek droom van doodgaan en my gesin agterlaat en dat hulle doodgaan aan die virus. Die volgende oggend voel kompleet soos die dag na die dood van 'n geliefde - dalk selfs ekself. Ek is skielik dodelik bewus van die drup in my keel en die verskriklike lyfseer en kopseer. Ons laat weet almal met wie ons in kontak was en gaan in vrywillige self-kwarantyn vir 14 dae. Elke klein hoesie en elke nekpyn maak 'n mens net onrustig. Ons bely ons skuld voor die Here en ons bid vir Sy bewaring. Psalm 121 kry vir ons nuwe betekenis - God sal ons bewaar. In die dae wat volg gaan ons oor en oor deur die fases van verlies: skok, ontkenning, onderhandeling, angs, aggressie en depressie.

Dis 'n week later en ek skakel 'n gesin wat positief getoets is vir Covid-19. Die ma is reeds in die hospitaal en die pa en seun stry die stryd tuis. Hy vertel vir my van sy simptome: hy het nie kopseer en naarheid nie maar geweldige lyfseer met rugpyn en kopseer. Dis asof ek myself in sy storie sien. Skielik maak die rugpyn en kopseer soveel meer sin. Die volgende dag laat ek myself toets vir Covid-19. Drie dae se wag wat voorlê. Drie dae se verdere "lockdown" in ons huis. Ek onhou die eerste gevalle in ons land, ons provinsie, ons dorp, ons gemeente, en nou moontlik in ons eie huis. Dis 'n tyd van wag en vertrou. Ek bid nie dat ek dit nie het nie want ons almal moet dit een of ander tyd kry; ek bid eerder dat ek dit het en so lig daarvan afgekom het. Tyd sal leer...

Comments

Popular posts from this blog

Reünie

Vir Johanette...